|

Afrikaners skep opnuut hoop met viering van Solidariteit Beweging se 120ste bestaansjaar

Die afgelope naweek het duisende Afrikaners in diepe dankbaarheid saam met die Solidariteit Beweging sy 120ste bestaansjaar gevier.

Die fees het Vrydagaand begin met ’n spoggeleentheid by Sol-Tech waartydens Flip Buys, voorsitter van die Beweging, met ’n spesiale boek vereer is vir die baanbrekerswerk wat hy die afgelope 25 jaar gedoen het.

Hy is in Julie 1997 as die hoofsekretaris van die destyds sukkelende Mynwerkersunie (MWU) aangestel wat finansieel bankrot, maar ook bankrot aan idees was. Die MWU is in 1913 gestig en het voor dit as die Transvaal Mynwerkersassosiasie bekend gestaan wat in 1902 kort ná die sluiting van die Vrede van Vereeniging gestig is. Die MWU se naam is in 2001 na Solidariteit verander.

Buys het met sy aanstelling in 1997 besef dat die Afrikaner voor enorme uitdagings is. Die euforie van die ordeverandering in 1994 was verby en Afrikaners het voor groot ekonomiese en politieke omwentelings te staan gekom. Buys het die visie gehad dat die rol van die vakbond uitgebrei sal moet word na een van ’n arbeidsbeweging. Dit het die weg gebaan vir hoe die Beweging vandag met sy 21 gemeenskapsorganisasies lyk en funksioneer.

Die gedagte van om te beskerm en te bou loop soos ’n goue draad in die boek, Boustene – 25 jaar se idees vir die toekoms, wat aan Buys opgedra is. Dit bevat 25 bydraes van verskillende rolspelers en leiers in die afsonderlike instellings wat op hul terreine projekte aanpak om toe te sien dat die Afrikaner vry, veilig en voorspoedig aan die Suidpunt van Afrika kan leef en werk. Kallie Kriel (AfriForum), Henk Schalekamp (Kanton) en dr. Dirk Hermann (Solidariteit), wat saam met Buys by die MWU begin het, het ook hulde aan hom gebring en staaltjies vertel oor hoe daar aan die begin planne beraam en aan geskaaf is. Vandag verteenwoordig die Beweging meer as 570 000 mense.

Tydens die vieringe die naweek het Buys die boodskap van roepingsgedrewenheid beklemtoon en gesê dit is belangrik dat daar voortdurend skeppend en vernuwend gedink en gedoen word, maar dit moet op beproefde waardes gegrond wees.

“Die geskiedenis gee aan elke geslag ’n taak. Party het dit moeilik en ander minder moeilik. Elke geslag moet egter dit wat hy van die vorige gekry het, bewaar, uitbou en verbeter. Geslagte is van mekaar afhanklik.”

Die feesvieringe Saterdag het by die Voortrekkermonument plaasgevind en gepaard gegaan met uitstallings, heerlike gesinsaktiwiteite, ’n pretloop en ’n musiekkonsert die aand wat op AfriForum TV uitgesaai is.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het Sondag ’n dankdiens by die Monument gelei. Die boodskap was dat die tyd van wondere nog nie verby is. Net soos wat daar wonderwerke in die tyd van die Bybel plaasgevind het, gebeur dit vandag nog steeds in die lewens van mense en organisasies.

’n Dankdiens is Sondag by die Voortrekkermonument gehou.

Buys het gesê alles wat die Beweging die afgelope 25 jaar uit die hand van die Hemelse Vader ontvang het, word aan Hom opgedra. “In ’n tyd van groot onsekerheid weet ons dat God nog altyd regeer het, en dat Hy vandag nog regeer en tot in ewigheid sal regeer.

“Sy almag vloei deur die roeping van gewone mense. Hy rus mense toe om hul taak uit te voer en daarom kan ons Hom vertrou, op ons roeping fokus en ons nie bekommer oor die struikelblokke wat oor ons pad kom nie.”

Hy het ook gesê Afrikaners mag hulle nooit onttrek aan die kwessies wat hul in die gesig staar nie. “Ons bou eenvoudig self ’n nuwe toekoms vir ons gemeenskap. Die veerkragtigheid van ons gemeenskap, die beginsels van selfdoen en selfstandigheid, sowel as ons strewe na uitnemendheid skep tasbare hoop in moeilike tye.”

As deel van die dankdiensseremonie het elke instelling ’n Bybelvers vir die historiese gebeurtenis gekies. Dit is aan Buys oorhandig wat dit in ’n groot Nederlandse Statebybel geplaas het wat vir bewaring aan die Solidariteit Bewegingtrust oorhandig is.

Soortgelyke plasings