|

AfriSake en AfriForum bied nasionale inligtingsessies oor grondonteiening aan

AfriForum en AfriSake gaan vanaf 3 April tot 10 Mei in-diepte inligtingsessies oor grondonteiening vir gemeenskappe regoor Suid-Afrika aanbied.

Dít volg nadat die EFF se mosie vir die onteiening van grond sonder vergoeding, ’n omstrede beleid wat ook deur die ANC ondersteun is, vroeër vanjaar in die parlement aanvaar is en moontlik op ’n wysiging van die Grondwet kan uitloop.

Tydens dié sessies, wat in al nege provinsies aangebied gaan word, sal die sakeregte-waghond AfriSake die wetlike aspekte van onteiening sonder vergoeding bespreek, terwyl AfriForum op die fisiese beskerming van eiendom sal fokus.

Tydens dié sessies sal AfriForum se assesseringsgids vir plaasveiligheid, wat op 20 Maart bekendgestel is, ook bespreek en uitgedeel word. Dié gids dien as hulpmiddel om mense in staat te stel om hul eiendom én hulself te beveilig.

AfriSake het ook op 6 Maart 2018 ’n blitsberaad oor grondonteiening sonder vergoeding gehou, wat deur verteenwoordigers van verskeie burgerlike organisasies bygewoon is, naamlik AfriForum, AgriSA, die FW de Klerk Stigting, die Helen Suzman Stigting, die Solidariteit Beweging, die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede (IRR), TLU SA, en die Vryemarkstigting. Die DA, VF+, en ACDP wat teen dié mosie gestem het, het ook spreekbeurte by die beraad gehad.

Tydens die beraad het die verteenwoordigers van die verskeie organisasies hul interpretasies en voorgenome aksies met betrekking tot die ANC en EFF se mosie vir onteiening sonder vergoeding bespreek.

Rolspelers uit verskeie sektore, insluitend landbou, die staat en ander private en burgerlike belangegroepe, is ook onlangs genooi om dié omstrede beleid te bespreek by die Nasionale Forum vir Dialoog (NFD) se grondberaad wat Roelf Meyer, politieke ontleder en voormalige minister van die NP, help reël.

Solidariteit, AfriSake en AfriForum is egter nie by die beraad betrek nie. Theuns Eloff van die FW de Klerk-stigting en Dan Kriek van Agri SA is wel genooi.

Luidens mediaberigte verwelkom Kriek die geleentheid om aan die debat deel te neem en om AgriSA se oplossings vir “volhoubare grondhervorming” met die beraad te deel.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, sê sy organisasie is nie deur die NFD genader nie, ondanks die aanbieding van hul hoëprofiel blitsberaad.

Hy sê voorts dat die konsepprogram vir die NFD se grondberaad ’n opvallende tekort aan rolspelers het wat teen onteiening sonder vergoeding gekant is en dus die geloofwaardigheid daarvan in twyfel trek.

“Ons sal die geleentheid monitor, maar die wyse waarop hierdie NFD byeengeroep is, maak dit feitlik onmoontlik dat die verloop daarvan ’n geloofwaardige dialoog sal daarstel. Deur kritiese stemme van gerekende rolspelers by die geleentheid uit te sluit het die NFD sy geloofwaardigheid prysgegee. Die bywoning deur president Ramaphosa, sleutelfigure in die regering en selfs die grondwetlike hersieningskommissie voorspel boonop niks goeds vir ’n oop en gebalanseerde openbare deelnameproses oor onteiening sonder vergoeding hierna nie,” sê Le Roux.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het bevestig dat die burgerregte-waghond ook nie genooi is om deel van die dialoog te wees nie en gesê dat AfriForum nie belangstel om aan enige gesprek oor grond wat deur Roelf Meyer gereël word, deel te neem nie.

Besoek www.stoponteiening.co.za of AfriForum en AfriSake se sosiale media-blaaie vir die volledige datums van die aanbiedings.

Soortgelyke plasings