|

Akademia behaal mylpaal met eerste gradeplegtigheid

Die private hoëronderwysinstelling Akademia het vandag sy vierde promosieplegtigheid en eerste gradeplegtigheid aangebied waartydens 76 afgestudeerde studente diplomas, sertifikate én grade ontvang het.

Dié instelling het reeds vier promosieplegtighede aangebied, maar volgens Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, is die instelling besonder trots op die eerste groep B.Com Ondernemingsbestuurstudente wat grade gekry het.

“Ons is vandag hier om die prestasies van sowat 76 afgestudeerde studente te vier. Kort op hulle hakke is die 750 studente wat vanjaar by Akademia ingeskryf het én die duisende wat nog in die toekoms gaan inskryf. Hierdie is dus die kleinste wat Akademia se gradeplegtigheid ooit gaan wees en ons sien uit om verder uit te bou en te groei.”

Volgens René du Plessis, een van die eerste studente wat die B.Com Ondernemingsbestuursgraad verwerf het, was haar studies lekker en met tye uitdagend. Sy het voorts gesê dat dit vir haar gerieflik was om haar studiemateriaal en take elektronies te ontvang en in te dien omdat sy ver van die kampus af woon.

“Ek het besluit om deur Akademia te studeer omdat hul kursus al die vakke aangebied het wat ek graag wou neem en dus die omvattendste en beste keuse vir my was.”

Alexander Strydom, wat ʼn hoër sertifikaat in rekeningkunde ontvang het, het aan Forum Nuus gesê dat dit vir hom veral aangenaam was om in Afrikaans onderrig te ontvang. “Wat Akademia anders maak, is dat die klasse kleiner en meer intiem is. Jy kan dan meer geleenthede kry om vrae te vra en jy voel nie asof jy net ʼn nommer is nie.”

Hy sê voorts dat hy ander studente sal aanmoedig om hul studies by Akademia voort te sit. “By Akademia gee die personeel werklik om. Ek dink Akademia gaan eendag ʼn baie groot universiteit word.”

Martie Maree, ʼn grafiese ontwerper by die Solidariteit Beweging, het ʼn gevorderde diploma in projekbestuur verwerf en meen dit is ʼn voorreg om die geleentheid te kon kry om by die beweging te werk én te studeer. “Akademia is vir oud en jonk en boonop lekker Afrikaans. Hoewel die werk intens is, is die omgewing aangenaam en is ek trots om te sê dat ek my diploma deur Akademia verwerf het.”

 

Soortgelyke plasings