|

Akademia gee eerste tree om wêreldklas fakulteit in natuurwetenskappe te vestig

Akademia het vandag aangekondig dat dié private hoëronderwysinstelling slaggereed is om wêreldklasgehalte natuurwetenskaplikes vir die toekoms op te lei.

Benewens die BSc (Wiskundige Wetenskappe)-program wat reeds sedert 2021 aangebied word, sal ’n BSc (Rekenaarwetenskappe) vanaf 2023 beskikbaar wees.

Die eerste kwalifikasie het ten doel om studente toe te rus met ’n soliede grondslag in wiskunde, toegepaste wiskunde en wiskundige statistiek. Dit sal studente voorberei vir ’n loopbaan in onder meer die onderwys, wiskundige wetenskappe, analitiese sosiale- en natuurwetenskappe, sowel as die finansiële bedryf.

Akademia is slaggereed om wêreldklasgehalte natuurwetenskaplikes op te lei.

Studente met ’n BSc-graad in Rekenaarwetenskappe sal toegerus word om data te verwerk en te analiseer, stelsels vir verskillende toepassings te ontwerp en wiskundige en teoretiese onderbou van grafika en kunsmatige-intelligensieontwerpe te implementeer.

Die minimum tydsduur vir die twee grade is drie jaar elk en die programkoste beloop R55 440 in 2023 vir die eerste jaar.

Prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die fakulteit, sê Akademia is trots om die Fakulteit Natuurwetenskappe nou amptelik bekend te stel op die vooraand van die implementering van die eerste fundamentele studierigtings in natuurwetenskappe naamlik programme in fisiese en biologiese wetenskappe.

Prof. Hannes Rautenbach

Hy het gewys op die Christelike, klassieke universiteitskarakter van Akademia en die instelling se verbintenis tot voortreflike opleiding en opvoeding. In die Fakulteit Natuurwetenskappe sal nuwe en opwindende geleenthede geskep word om studente in Afrikaans in die natuurwetenskappe op te lei wat uiteindelik tot voordeel van die hele land kan wees.

Hoewel die natuurwetenskappe aanvanklik eers net op voorgraadse vlak aangebied word, sal dit later na nagraads uitbrei.

Dr. Gawie Nothnagel

Dr. Gawie Nothnagel, ’n vrydenker en voormalige senior bestuurder by die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa), was ’n gasspreker en het daarop gewys dat die wetenskap nie teenoor geloof staan nie, maar dat dit eerder komplementêr tot mekaar is in die soeke na kennis, insig en wysheid. “Meer kennis oor die wetenskap laat gelowiges met meer ontsag daarna kyk.

“Geloof bly ’n geestesgawe en die taak van die wetenskap is om die wonders van die skepping en die natuur te ontdek.”

Prof. Oppel Greeff, voorsitter van die Suid-Afrikaanse akademie vir wetenskap en kuns, het beklemtoon hoe belangrik die rol van die Afrikaanssprekende steeds in die wetenskap is. Hy het ook verwys na die enorme sukses wat talle Afrikaanse wetenskaplikes ook oorsee behaal het en steeds doen. Hy meen hulle behaal die sukses op grond van die eienskappe van Afrikaners soos eerlikheid, integriteit, hardwerkendheid en vindingrykheid.

Prof. Oppel Greeff

Greeff glo die bevordering van wetenskap en tegnologie in Afrikaans is steeds van onskatbare waarde.

“Die nuwe fakulteit maak my vreeslik opgewonde. En ook die feit dat die opleiding in Afrikaans is. Afrikaans het verdwyn by ander universiteite en ek dink en daar was tien of vyftien jaar laas ’n lesing (by Tukkies) in Afrikaans.”

Hy is ook van mening dat die akademie oor uitstekende hulpbronne en kundigheid beskik om Akademia te ondersteun. Daar is onder meer die tydskrif van die akademie waarin in Afrikaans gepubliseer kan word sowel as simposia wat aangebied word waar voordragte gelewer kan word.

Vir meer inligting oor hierdie en ander kursusse besoek www.akademia.ac.za.

Soortgelyke plasings