|

Akademia het nog plek vir studente in 2019

Terwyl die meeste instellings se aansoeke vir studies in 2019 reeds gesluit het, bied die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling Akademia steeds tot 19 Januarie ʼn laaste kans vir voornemende studente om aansoek te doen.

Van die voorste universiteite se aansoeke het reeds verlede jaar gesluit en die meeste het aangedui dat hulle geen instap-aansoekers sal kan inneem nie.

Die verwagting is dat derduisende studente nie vanjaar plek by die instelling van hul keuse sal kry nie, weens die hoë volume aansoeke by openbare universiteite. Die Noordwes Universiteit (NWU) en die Universiteit van die Vrystaat (UV) het elke meer as 50 000 aansoeke ontvang, terwyl hulle onderskeidelik net vir sowat 8 000 en 9 000 studente plek het. Die Universiteit van Witwatersrand het meer as 70 000 aansoeke gekry vir ’n beperkte 5 200 plekke. Die Universiteit van Kaapstad het 62 740 aansoeke vir 4 200 beskikbare plekke gekry, terwyl meer as 34 000 studente by die Universiteit van Stellenbosch wil studeer waar net 5 300 plekke is.

Die probleem word boonop vanjaar vererger omdat die aantal studente wat vir toegang tot graadstudies kwalifiseer van 153 610 in 2017 tot 172 043 in 2018 toegeneem het.

Rendani Nematswerani, sekretaris-generaal van die EFF-studentebevel, het egter nes die party se leier, Julius Malema, verlede jaar gemaak het, jongmense aangeraai om op kampusse toe te sak om aansoek te doen en te registreer omdat die departement van hoër onderwys en opleiding se sentrale aanlyn-aansoekstelsel “net vir die elite met toegang tot die internet is”.

Ondanks Malema en die EFF se uitlatings, het Lunga Ngqengelele, woordvoerder van Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding, dit duidelik gemaak dat geen instap-aansoekers by universiteite en kolleges vir tegniese en beroepsgerigte onderwys en opleiding (TBOO) toegelaat sal word om te registreer nie.

Hy meen die departement bedryf ’n sentrale aanlyn- aansoekstelsel om studente aanlyn met aansoeke of registrasies by te staan en dat die doel van die stelsel is om ’n sentrale databasis op te stel van waar instellings studente direk kan kontak. Volgens hom raai die departement voornemende studente aan om nie net by universiteite nie, maar ook by TBOO-kolleges aansoek te doen.

Dr. Blade Nzimande, voormalige minister van hoër onderwys en opleiding, het in 2012 tydens ’n mediakonferensie gesê dat dié sentrale aansoekstelsel juis ontwikkel is om uiteindelik ’n einde te bring aan laat aansoeke en instapaansoeke by universiteite en kolleges.

Dié stelsel poog om leerlinge te plaas by instellings wat ooreenstem met hul matriekpunte en studievoorkeure. Die departement wys op sy webtuiste ook dat die voorste universiteite goeie punte in vakke soos wiskunde en fisiese wetenskappe vereis. Die departement benadruk egter ook dat die stelsel nie vir voornemende studente ’n plek by ’n instelling kan verseker nie en dat leerlinge wat ’n spesifieke studierigting wil volg, instellings self moet kontak en direk by instellings aansoek moes doen.

Dr. Theuns Eloff, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting en oudrektor van die Noordwes-Universiteit, het destyds Malema se uitlatings as onverantwoordelik beskou en gesê dit kan rampspoedige gevolge hê. Hy het daarop gewys dat die meeste universiteite reeds in Junie van ’n jaar hul eerstejaars vir die volgende jaar keur en aanvaar.

“Die hele aansoek- en goedkeuringsproses by universiteite in Suid-Afrika is ’n bose kringloop weens die departement van hoër onderwys se swak bestuur en die #Feesmustfall-beweging,” meen Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.

“Universiteite word uitgebeeld as boelies wanneer dit kom by studieplek en goedkeuring, maar hulle sit met so groot finansiële uitdaging weens die #Feesmustfall-beweging wat hulle byna R10 miljard uit die sak gejaag het weens vandalisme by van die instellings. Universiteite moes dus geld spandeer op herstelwerk en sekuriteit, terwyl dié finansies eerder gebruik kon word om meer studente te akkommodeer,” meen Bailey.

Vakbonde en politieke partye het ook hul kommer uitgespreek oor die gebrek aan plek vir studente wat wil studeer. Nog ’n bekommernis, is die voortslepende probleme rondom die nasionale studente-finansieringshulpskema (NSFAS) wat tot gevolg het dat verdienstelike studente wat dit nie kan bekostig nie, ook nie toegang tot tersiêre instellings kan kry en registreer nie.

Aansoeke om by Akademia te studeer word aanlyn voltooi deur die maklike stappe op die aansoekportaal te volg:  https://akademia.ac.za/index.php/doen-aansoek/

By dié instelling kan die volgende kwalifikasies verwerf word:

  • BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Finansiële Beplanning)
  • BCom (Ondernemingsbestuur)
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

Soortgelyke plasings