|

Akademia-kwalifikasies open wêrelde vir jonges

Mareli Rall, ’n bemarkingsbeampte by AfriForum, is een van 157 studente wat verlede week ’n kwalifikasie aan Akademia, ’n privaat hoëronderwysinstelling, verwerf het.

Tydens die jaarlikse gradeplegtigheid is in totaal 52 grade, 10 gevorderde diplomas, 4 diplomas en 91 hoër sertifikate toegeken.

Tydens die instelling se eerste gradeplegtigheid in 2013 is net 10 kwalifikasies toegeken.

Mareli het vir die Gevorderde Diploma in Projekbestuur ingeskryf nadat sy van ander studente verneem het wat dit gedoen én baie geniet het.

“Dit was beslis die moeite werd en ek het baie tydens die kursus geleer. Om te studeer terwyl ’n mens werk, verg baie selfdissipline. Tydsbestuur is ook baie belangrik omdat die kursus baie selfstudie vereis.

“Studente wat deur Akademia wil studeer, moet weet waarvoor hulle hul inlaat. Daar is minder kontaktyd as by ’n residensiële universiteit en ’n mens moet leer om op jou eie te werk om jou werkstukke betyds in te handig.”

Mareli beveel studie deur Akademia beslis aan. “Ek het soveel nuwe vaardighede aangeleer en het nou ook ’n baie beter insig in wat projekbestuur behels. Al pas jy nie projekbestuur in elke werksituasie toe nie, leer dit jou ook hoe om jou persoonlike lewe te orden en te bestuur.”

Dr. Pierre Edwards, voormalige hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria en onderwyskenner, was die gasspreker by die geleentheid. Hy het in sy toespraak die afgestudeerdes gemotiveer om hulle kwalifikasies as instrument te gebruik om hul roepings na te streef en ʼn daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak.

Die oorgrote meerderheid van Akademia se studente werk terwyl hulle studeer. “Daarom is ons trots op alumni wat hard gewerk het om hulle kwalifikasies te voltooi,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia.

“Om boonop ʼn toppresteer te wees, verg nóg meer toewyding en deursettingsvermoë – daarom word toppresteerders vir hulle uitnemende akademiese prestasies vereer,” meen Visser.

Jaco Oosthuizen het die beste prestasie in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program behaal. ʼn Spesiale toekenning is aan Lené Ferreira oorhandig vir die beste gemiddeld in die BCom (Bestuursrekeningkunde)-program. Pieter Wentzel, wat as afgestudeerde meganiese ingenieur by Akademia aangesluit het, is as die topstudent in die Gevorderde Diploma in Projekbestuur aangewys. Susan Wilkinson het die toppresteerdertoekenning vir uitnemendheid in die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie ontvang, terwyl Marisa Abeln met dieselfde toekenning vir die Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde weggestap het.

Akademia het in haar eerste akademiese jaar in 2012 met slegs 35 studente afgeskop, en vanjaar is die instelling trots om meer as ʼn 1 000 ingeskrewe studente te hê. Hierdie groei in getalle is tekenend van Akademia se suksesresep wat elke akademiese jaar verbeter en verfyn word. Een van hierdie suksesse is die toevoeging tot die bestaande na-uurse rooster, die blokrooster, wat verlede jaar bekendgestel is. Hierdie rooster het ten doel om afstandsonderrig in Afrikaans vir studente wat weens verskeie omstandighede nie na-uurs kontaksessies kan bywoon nie nóg meer toeganklik te maak.

Vir meer inligting oor Akademia besoek www.akademia.ac.za. 

Soortgelyke plasings