|

AKADEMIA VIER UITNEMENDE PRESTASIES TYDENS ERKENNINGSGELEENTHEID

Deur Zydèlia Venter

Akademia het op Donderdag 20 Mei 2021 die uitnemende akademiese prestasies van 2020 tydens ʼn spoggeleentheid by die Atterbury Teater in Pretoria erken. Weens Covid-19-regulasies is kwalifikasies vroeër vanjaar in absentia oorhandig, maar het die instelling besluit om steeds ʼn formele funksie op ʼn kleiner skaal te hou om dié groot mylpaal in die afgestudeerde studente lewens te vier. ʼn Totaal van 96 prestasies is tydens die geleentheid erken.

Liana Venter, registrateur by Akademia, meen dat die afgestudeerde studente van 2020 se prestasies nie ongesiens verby gegaan het nie. “Ons weet dat daar baie deursettingsvermoë, harde werk en ure in studies geploeg is – veral gegewe die onsekere tye waarin ons onsself bevind. Daarom is dit belangrik dat ons vir ʼn oomblik stilstaan om hierdie kwalifikasies, en veral topprestasies, te vier.”

Die instelling se laaste groep Elitebeursstudente, wat die Elitebeursprogram aan die einde van 2019 voltooi het, het ook welverdiende erkenning tydens die funksie ontvang vir die suksesse wat hulle met die program behaal het. Dié groep studente het oor drie jaar verskeie vereistes gehad waaraan hulle moes voldoen, en het alle verwagtinge oortref en die program op ʼn hoë noot afgesluit.

“Al is vandag se glansgeleentheid nie ʼn formele kwalifikasieplegtigheid nie, en kon slegs beperkte aantal persone bywoon, is dit steeds ʼn reusevoorreg om te midde protokolle met togas oor die verhoog te stap om op ʼn simboliese wyse groei en ʼn blink toekoms te vier,” sê Venter.

Venter noem dat Akademia sowaar trots is op elkeen wat kwalifikasies in 2020 voltooi het. “Ons wens vir hierdie afgestudeerde studente is om nooit ʼn uitdaging as te groot te sien nie, want as jy so ʼn prestasie kon bereik in hierdie tye is jy beslis tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee.”

Akademia, as Afrikaanse privaat hoëronderwysinstelling, lê klem daarop om studente vakkundig te onderrig sowel as holisties te vorm. “Daarom glo ons dat ons nuutste alumni-lede ten volle toegerus is om met hierdie opleiding en opvoeding rentmeesters te wees in die gemeenskappe waar hulle geplant is. Ons sien daarna uit om binnekort van suksesvolle loopbaanstories te hoor waar hulle ʼn wesenlike verskil maak,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings