|

Alberton-buurtwag ondersteun die SAPD tydens dwelmbeslaglegging

Die AfriForum-buurtwag in Alberton het op 12 Julie saam met die SAPD en ander veiligheidstrukture in die omgewing gewerk om dwelmhandel hok te slaan. Die spesiale operasie is uitgevoer langs JG Strijdomweg waar dwelms gekonfiskeer en verskeie arrestasies gemaak is. Verskeie rolspelers was betrokke by die operasie, waaronder die Brackendowns-SAPD, AfriForum se Alberton-buurtwag, die Brackendowns-GPF, die Ekurhuleni-metropolisie, Fidelity ADT, Binnelandse Sake: Immigrasie en React24 Security.

“AfriForum se Alberton-buurtwag maak ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap. Suksesse soos hierdie lê die hoeksteen vir ons om vreedsaam te kan saamwoon en saam aan ons toekoms te kan bou. Die spesialisopleiding wat ons buurtwaglede ontvang, maak die goeie samewerking met die SAPD en ander rolspelers moontlik. Hierdie suksesvolle operasie beklemtoon weereens die belangrikheid van samewerking en proaktiewe optrede in die bekamping van misdaad,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Ons kan nie toelaat dat misdadigers maak soos hulle wil nie. Daarom sal ons voortgaan om deur gedissiplineerde, wettige en goed beplande optrede misdadigers uit ons gemeenskap te verdryf. Ons is baie dankbaar dat die AfriForum-buurtwag in Alberton van krag tot krag groei. Dit is werklik ’n opoffering wat gemaak word en ’n besluit wat geneem word deur vrywilligers om hulle gemeenskap veiliger te maak vir almal wat daar woon,” sê Louis van Aswegen, leier van AfriForum se Alberton-buurtwag.

Kontak gerus vir Van Aswegen by 082 453 9203 om by AfriForum se Alberton-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings