|

Alberton-buurtwag werk saam met die SAPD om misdaad te bekamp

Die AfriForum-buurtwag in Alberton het op 5 April saam met die SAPD en ander veiligheidstrukture in die omgewing gewerk om misdaad hok te slaan. Die doel van die operasie was om sigbaarheid te verhoog, huisinbrake te verhoed, en motoriste te arresteer wat onder die invloed van alkohol bestuur. Gedurende die operasie het die deelnemers patrollie gery en ’n voertuigbeheerpunt (VBP) beman.

“Ons is trots op die samewerking en verhouding wat ons met die SAPD kon vestig ‒ dit is net moontlik as daar wedersydse vertroue en respek is. Vir hierdie samewerking om voort te duur en te verseker dat ons buurtwag ten alle tye op ons beste funksioneer, is dit nodig dat ons lede nie net toegerus word met die regte toerusting nie, maar ook met goeie opleiding en dit is presies wat ons as deel van AfriForum se veiligheidstrukture ontvang,” sê Louis van Aswegen, voorsitter van AfriForum se Alberton-buurtwag.

“Ons is baie opgewonde om te sien hoe die harde werk agter die skerms besig is om vrug te dra. Verder is ons dankbaar om te sien hoe daar stewige en goeie verhoudinge gebou word met ander rolspelers in die veiligheidsgemeenskap soos die SAPD. Die veiligheidsuitdagings wat die gemeenskappe deesdae in die gesig staar vereis dat buurtwaglede toegerus is met die nodige kennis om met selfvertroue op te tree en goeie besluitneming aan die dag kan lê,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Kontak vir Louis van Aswegen by 082 453 9203 om by AfriForum se Alberton-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings