|

Alexi Bizos skuldig aan aanranding ná AfriForum se privaatvervolgingseenheid ingryp

In ’n oorwinning in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld en ’n treffende voorbeeld van selektiewe vervolging, is Alexi Bizos, seun van die ontslape menseregteprokureur, adv. George Bizos, vandag skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die Johannesburgse landdroshof het Bizos meer as nege jaar nadat hy sy eksvrou, Monique van Oosterhout, by hul huis in Johannesburg geslaan het, skuldig bevind aan haar aanranding. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het ’n verhoordatum in 2020 verseker en die private vervolging begin nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versuim het om self Bizos te vervolg.

Nadat uitspraak gelewer is, het Van Oosterhout gesê sy sou nooit die geleentheid gehad het om haar weergawe te vertel as dit nie vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid was nie. “Dit is nie net geregtigheid vir my saak nie, maar geregtigheid vir elke vrou wat al mishandel, beskuldig, verneder en blameer is. Dit behoort nie te gebeur nie. Ek is oortuig  dat indien as AfriForum se privaatvervolgingseenheid nie my saak opgeneem het toe ek hulle vir regsadvies gevra het nie, sou ons nie vandag hier wees nie,” sê sy.

Barry Bateman, woordvoerder vir die eenheid, sê: “AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal sy stryd voortsit om te verseker dat niemand bo die wet verhewe is nie. Hierdie skuldigbevinding ontbloot die NVG se selektiewe vervolging en bevestig ons oortuiging dat die besluit om Bizos nie te vervolg nie gegrond was op sy verhouding met die bekende George Bizos. Die landdros het bevind dat die beskuldigde ’n swak getuie en ontwykend was en dat sy getuienis besaai was met teenstrydighede. Sy bewering dat hy in werklikheid die slagoffer was en uit selfverdediging opgetree het, is ook deur die hof verwerp. Aan die ander kant het die hof bevind dat Van Oosterhout ’n goeie getuie is wat ’n logiese en duidelike prentjie geskets het van wat gebeur het.”

Bizos het Van Oosterhout in 2015 aangerand en ses van haar ribbes gebreek. Die NVG het aanvanklik geweier om hom te vervolg, maar ná AfriForum se aankondiging in 2018 dat sy privaatvervolgingseenheid aansoek gedoen het om ’n nolle prosequi-sertifikaat te bekom om Bizos te vervolg, het die NVG ’n ommekeer gemaak. Bizos is toe genooi om vertoë te rig voordat vervolging ingestel sou word, maar by ontvangs van sy terugvoer het die NVG weer besluit om nie te vervolg nie. Dit het Van Oosterhout, met die eenheid se ondersteuning, genoop om aansoek te doen vir ’n sertifikaat om Bizos privaat te vervolg.

Die saak is tot 23 Augustus uitgestel om ’n datum vir vonnisoplegging te bepaal.

Soortgelyke plasings