|

Alle Afrikaners beleef een of ander maatskaplike krisis – navorsing

Solidariteit Helpende Hand het vandag ’n navorsingsverslag vrygestel wat aantoon dat Afrikaners in nood is en dat almal een of ander maatskaplike krisis beleef.

Dit gaan veral slegter met hulle ná Covid-19, maar dit is ook internasionaal die tendens.

Meer as 15 000 respondente in 435 dorpe en stede het aan die peiling deelgeneem. Die grootste krisisse is finansieel of op maatskaplike vlakke.

“Vandag is die tyd om iets te doen. Verandering begin vandag en dit begin by een en elk van ons.”

Die navorsing toon ook aan dat talle Afrikaans aan angs, depressie of eensaamheid ly wat dit dringend noodsaaklik maak dat ’n groter gemeenskapsbenadering gevolg moet word om dié probleme te pak.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, sê die bevindings toon dat daar baie werk voorlê wat daarop gemik moet wees om mense uit hul finansiële skuld te kry en hulle toe te rus om beter vir hul aftrede voorsiening te maak. “Ons mense beleef groot maatskaplike uitdagings as ons kyk na angs- en depressievlakke, substanse afhanklikheid.”

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand

Hy meen dit is ook duidelik dat Afrikaners ’n groot behoefte aan verskillende vorme van opleiding het hetsy rondom finansiële beplanning, entrepreneurskap en vaardigheidsontwikkeling.

“Opleiding is nodig om gesonde gemeenskappe te bou.”

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van navorsing, programme en opleiding, beklemtoon dat die maatskaplike uitdagings nie net een organisasie, kerk of gemeenskap se uitdagings is nie, maar dat dit elke organisasie, elke kerk en veral elke gemeenskap se verantwoordelikheid is om hulle gemeenskapskrag te ontgin en oplossings vir die uitdagings te vind.

Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van navorsing

Noëth meen dit is dringend noodsaaklik dat die uitdagings onmiddellik aangepak moet word. “Vandag is die tyd om iets te doen. Verandering begin vandag en dit begin by een en elk van ons.”

Van die belangrikste bevindings in die verslag is:

  • 60% van Afrikaners het nie voldoende aftreevoorsiening nie.
  • Lae inkomste is ’n groot uitdagings. 1 uit 4 respondente se gesamentlike huishoudelike inkomste beloop minder as R14 000 per maand. 8% verdien minder as R4 000 per maand per huishouding.
  • Talle Afrikaners (59%) sukkel met ’n hoë skuldlas. 38% wil uit voedsel of munisipale skuld kom, 37% uit kredietkaartskuld, 36% uit motorskuld en 34% uit huisverbande. ’n Uiters kommerwekkende 10% het drankskuld.
  • Daar is ook ’n tendens waar respondente na ander volwassenes moet omsien. 17% sien na bejaardes om, 11% na ander volwassenes en 8% na volwasse kinders.
  • Gesondheidsorg is vir baie ook ’n uitdaging. 20% behoort nie aan ’n mediese fonds nie, 21% kan gereeld nie nodige medikasie bekostig nie. 41% het bloeddrukprobleme, 29% ly aan hoë cholesterol en 24% het depressie of ondervind slaapprobleme.
  • Wat maatskaplike probleme betref, is daar drankmisbruik onder 26%, en dwelmafhanklikheid en pornografie-verslawing onder 16%.
  • Afrikaners sukkel ook met verhoudingsprobleme. 49% beleef huwelikskonflik, 14% is blootgestel aan gesinsgeweld of seksuele misdade en 12% aan kinderverwaarlosing.
  • In terme van finansiële uitdagings het 35% werkverlies aangedui terwyl 27% voedselgebrek ervaar.

Die volledige verslag is beskikbaar by www.onsgemeenskap.co.za.

Soortgelyke plasings