|

Alle lewens maak saak, sê Hartswater-gemeenskap waar moordverdagtes van Brand-gesin verskyn

 

Die gemeenskap van Hartswater en boere en inwoners van die Vaalharts-skema in die Noord-Kaap het vandag opgeruk na die plaaslike hof waar vyf beskuldiges op aanklagte van roof, ontvoering en moord op die Brand-gesin verskyn het.

Dan (83) en Breggie Brand (73), en hul dogter Elzabie (54) is Sondag uit hul hoewehuis in Hartswater geneem. Hul lyke is Dinsdag in die veld naby Takaneng gevind. Hulle het steekwonde aan hul gesigte en koppe gehad. ’n Lykskouing word vandag op die drie gesinslede gedoen.

AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture het saam met die Gemeenskapsveiligheidseenheid (GVE) op die dorp, die plaaslike boeregemeenskap en die SAPD gewerk om die verdagtes aan te keer.

Vyf verdagtes het vlugtig verskyn. Vier van hulle het om regshulp aansoek gedoen, terwyl die vyfde, ’n vrou, aangedui het dat sy haar eie regsverteenwoordiging sal kry. Hulle bly in aanhouding tot 13 Augustus.

Inwoners is geruk deur die grudaad en het in solidariteit met die gemeenskap aan ’n vredesame protesoptog deelgeneem. Bakkies en trekkers het in ’n konvooi deur die strate gery en inwoners het plakkate vertoon waarop gevra is dat ’n einde aan die sinnelose moorde en geweld gebring moet word. Gemeenskapslede het ook herhaaldelik geskreeu dat “alle lewens saak maak”.

Die atmosfeer in die dorp is vandag gekenmerk aan ’n gevoel van eenstemmigheid en saamstaan. AfriForum se Trauma-ondersteuningseenheid was ook betrokke en het vroeër berading vir van die inwoners gereël.

Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, en Lize-Marie Smit, distrikskoördineerder vir die Karoo, het die hofverrigtinge bygewoon.

Kruger sê landelike gemeenskappe is sat van die aanvalle en moorde op boere. Hy het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om na die gemeenskap van Hartswater uit te reik en te kom kyk wat die impak van moorde op gemeenskappe is.

“Hierdie is iemand se ma, pa en suster. Dit kon myne en joune gewees het. Ons en die gemeenskap wil weet waar pres. Ramaphosa is en hoekom hy nie die moorde veroordeel nie. Hy moet kom kyk wat hier aangaan. Ons wil dan hoor of hy sê plaasmoorde en –aanvalle is steeds nie werklik nie…”

Kruger het beklemtoon dat plaasmoorde nie gewone geweld of misdaad is nie, maar terreur. “Gemeenskappe is moeg vir hierdie aanvalle. Hulle is moeg om onveilig te voel. Genoeg is genoeg.”

Frederik van Zyl, woordvoerder van die Vaalharts Landbou-unie, het namens die boeregemeenskap die familielede van die Brand-familie sterkte toegewens. “Dis nog ’n lang pad wat vir hulle voorlê. As boeregemeenskap is ons egter tevrede hoe die verrigtinge vandag verloop het.”

AfriForum het vroeër vandeesmaand ’n verskerpte veldtog rondom plaasmoorde en –aanvalle aangekondig.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, het in ’n sterk bewoorde ope brief aan Ramaphosa tien praktiese stappe uiteengesit wat die regering behoort te doen om plaasmoorde doeltreffend te bekamp.

Hy het ook verwys na Ramaphosa sy stilswye en vroeëre ontkenning oor die werklikheid van plaasmoorde in die land en gesê terwyl Ramaphosa onlangs tereg homself uitgespreek het oor die geweld teenoor vroue en kinders, behoort hy dringend die pandemie van plaasmoorde ook te erken en te veroordeel.

Daar was sedert die begin van die jaar 186 plaasaanvalle en 29 plaasmoorde. In Julie alleen was daar tot dusver 9 moorde en 39 aanvalle.

AfriForum ook ’n kort dokumentêre film vrygestel oor die wrede moord in Desember 2010 op die Potgieter-gesin van Lindley in die Vrystaat. Die organisasie wil hiermee groter bewustheid vir plaasmoorde skep.

Soortgelyke plasings