|

Amerikaanse deskundige getuig in Ford Kuga-saak

Die saak tussen die Jimmy-familie en die Ford-motormaatskappy is vandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof hervat.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, verskyn vandeesweek namens die Jimmy-gesin in die hof in die geregtelike doodsondersoek van Reshall Jimmy (32). Jimmy het in Desember 2015 doodgebrand toe die Ford Kuga wat hy bestuur het aan die brand geslaan het. Die Ford-motormaatskappy is ook ’n party in die saak.

Tydens dié verrigtinge vandeesweek sal deskundige getuies van albei partye getuienis lei.

Ford se regsverteenwoordiger, adv. André Bezuidenhout, het vandag hul eerste getuie John David Loud geroep. Hy is ’n Amerikaanse ingenieur van Exponent Incorporated en ondersoek sistemiese en meganiese probleme in onder meer Ford, Samsung en e-siggaretmaatskappy se produkte.

Hy het getuig dat hy in November 2018 deur Ford gevra is om die Kuga-aangeleentheid te ondersoek. Hy moes onder meer die oorsaak en beginpunt van die brand ondersoek, die elektriese stelsels evalueer en verskeie hipoteses rondom die aangeleentheid ondersoek.

Loud het getuig dat vier Ford Kuga’s van Suid-Afrika na sy laboratorium in die VSA gestuur is om sy ondersoek te fasiliteer. Hy het dié motors gebruik om verskillende relevante teorieë vir die moontlike oorsprong van die brand te toets.  Hy het ook Jimmy se motor se diensrekords nagegaan en Jimmy se klagtes dat die motor se krag dikwels uitsny, geëvalueer.

Danny Joubert, ‘n kenner wat deur die familie aangestel is om die brand te ondersoek, het voorheen bevind dat die motor ernstige elektroniese probleme gehad het en dat die ‘body control unit’ of BCM die oorsprong van die brand was. Luidens Joubert se verslag oor die voorval kon die drade na die BCM moontlik die brand begin het, gegewe die motor se geskiedenis van kragverlies.

Loud sê dit wat Joubert gevind het, is verkeerd. Hy stry teen dié teorie en meen hy het geen kousale verbintenis tussen die BCM en die motor se kragverlies gevind nie omdat die BCM nie die motor se enjin beheer nie en dus nie krag kón uitsny nie. “Die motor se krag het moontlik uitgesny weens ’n sagtewareprobleem en die diensrekords wys dat daar sagtewareprobleme op Jimmy se motor herstel is.”

Hy voer aan dat die module vir enjinbeheer eerder die motor laat uitsny het.

Ford het ook ‘n model van ‘n Ford Kuga na die hof gebring as hulpmiddel vir hul deskundige getuies.

Die hof het hervat na ’n kort pouse.

 

Soortgelyke plasings