|

ANC blameer wit mense vir alles wat verkeerd is

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het vandag by AfriForum se derde nasionale kongres gepraat oor die stryd waarin Afrikaners hulself in moderne tye bevind.

“Daar is nie ’n Afrikaner-generasie wat nie in een of ander stryd gedompel was nie. Ons stryd is anders, omdat dit nie teen mense is nie, maar teen tyd en om idees.”

Hy sê hy wil deel wees van ’n organisasie wat nie foutloos en volmaak was nie, maar wat hom nie deur sy kritici laat onder kry het nie.

Volgens Roets is deel van die huidige stryd dat die regerende party deur leuens wit mense vir sy eie mislukkings blameer. Hy meen daar is veral geen groter leuen as die stelling dat wit mense grond gesteel het nie. “Wit mense het grond op drie maniere bekom. Deur die besetting van leë grond, deur onderhandeling en deur verowering.”

Hy sê voorts dat baie mense vaskleef aan politieke ideologie wat vandag soos ’n godsdiens geword het. “Nie almal wat arm is, is beroof nie. Nie almal wat struggle, was onderdruk nie.”

Hy sê voorts dat die ANC-regering homself probeer versterk, maar dat mense toenemend van die staat afhanklik word. “Die ANC is vandag soos ’n gekweste buffel. Hy is op sy swakste, maar aggressiefste.”

Volgens Roets is dit belangrik dat Afrikaners moet vasstel waar hul energie en dryf lê om die stryd om idees te voer. “AfriForum se energie is baie meer as om net ons taal te behou of ons land se infrastrukture te verbeter. Ons energie is om ons mense te laat floreer.”

Hy sê ook mens moet aanvaar dat daar sekere goed is wat gaan verval. “Ons moet onsself afvra of dit moontlik is om die staat te red?”

Hy verduidelik dat AfriForum se strategiese doelwit deur twee oorhoofse bane bevorder word, naamlik mobilisasie en kommunikasie. “Ons moet organiseer en ons suksesse op mekaar laat bou. Ons moet eerstens wen deur ons aksies en dan met ons argumente. Ons moet mense oorhaal om by ons stryd vir ʼn beter toekoms aan te sluit en sodoende ons kulturele identiteit herverpak en moderniseer.”

Hy sê voorts dat wit mense toenemend ideologies vir alles blameer word en dat daar op ideologiese sowel as demografiese oplossings gefokus moet word. “Ons moet veral ons vrouens en kinders ondersteun. Die helde van ons tyd is nie soldate, polisie of politici nie, maar ons vrouens en kinders, veral enkellopende ma’s.”

Hy voer ook aan dat almal nie oor alles hoef saam te stem nie, maar dat debatvoering en wedersydse respek gekweek moet word onder verskillende kulture. “As ons die stryd om idees verloor, verloor ons. Punt. Om dit te wen moet ons juis onder mekaar debatte voer en ’n hand van vriendskap na ander gemeenskappe uitreik.”

Hy sê verder dat mense wat geëmigreer het nie as verraaiers beskou moet word nie, maar vennote wat ons saak in die buiteland kan versterk.

“Nog nooit was daar ’n generasie wat nie een of ander rede tot wanhoop gehad nie. Ons moet besef ons kleinkinders gaan ons eendag afvra wat ons met die fakkel gedoen het wat aan ons oorhandig is.”

Soortgelyke plasings