|

ANC, EFF argeloos tydens debat oor plaasmoorde

AfriForum het van die ANC-lede se optrede tydens vandag se parlementêre sitting oor plaasmoorde veroordeel.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van veiligheid, en Lorraine Claassen, navorser by AfriForum, het dié sitting bygewoon waartydens Duduzile Manana, ANC-LP, tydens dr. Pieter Groenewald se toespraak oor die lot van wit boere geskree het: “Bury them alive.”

“Dít is ’n bewys dat die uitsprake van politieke leiers wel kan lei tot geweld en moorde en dat die plaasmoorde die ANC min skeel. Sekere lede van die ANC het tydens die debat gesit en gesels en glad nie geluister of aktief deelgeneem nie. Politieke partye wat nie plaasmoorde as ’n kwessie wil erken nie, soos die ANC en EFF, het tydens hul spreekbeurte gehamer op ’n enkele geval van ’n swart werker wat in Letsetele geskiet is,” het Cameron gesê.

Hy het gesê AfriForum verwelkom egter Mosiuoa Lekota van COPE se houding teenoor die kwessie.

Lekota het gesê uitsprake deur individue in die parlement wat jongmense mislei en tot die moord van andere lei, kan nie langer toegelaat word nie.

Hy het te velde getrek teen uitsprake deur pres. Jacob Zuma en Julius Malema, leier van die EFF. “Ons kan nie stilbly wanneer Malema sekere groepe in die land dreig en wanneer die president goed sê wat in stryd met die Grondwet is nie. Mense wat praat van grondvat sonder vergoeding, het geen politieke ruggraat nie.

“Ons het almal ’n verantwoordelikheid om uit te praat sodat generasies wat kom mekaar nie gaan uitmoor nie.”

Groenewald het ’n emosionele toespraak gelewer en gesê plaasmoorde is nie normale kriminaliteit nie, maar toon abnormale brutaliteit. Hy het verwys na die rol wat boere in voedselsekuriteit speel en gesê alles wat LP’s vandag geëet het, is te danke aan die landbousektor.

Hy het ’n oomblik van stilte vir die slagoffers gevra waarna sy spreekbeurt kortgeknip is.

Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, bosbou en visserye, het verwys na verskeie baie grusame moorde wat die afgelope tyd gepleeg is soos dié van Sue Howarth van Dullstroom wat deur haar aanvallers gesteek, gebrand, en geskiet is nadat hulle ’n swart sak in haar keel afgedruk het. In die geval van Nicci Simpson is haar voete met ’n elektriese boor deurboor. “Dit is onmenslik en barbaars dat mense so gemartel word. Hoe kan ons stilbly oor sulke wreedhede? Ek vrees elke dag dat iemand na aan my, wat ek liefhet of ken vermoor gaan word.”

Sy het verwys na die 18 673 moorde wat in 2015/16 gepleeg is wat op 51 per dag neerkom. Sedert die begin van die jaar was daar in die Vrystaat alleen 12 plaasaanvalle waarvan 7 op werkers was.

Volgens Steyn moet plaasmoorde as ’n aparte misdaadkategorie geklassifiseer word. “Hierdie is nie gewone misdaad nie. Dit is te goed beplan.”

Sy het ook ’n pleidooi gelewer dat slagoffers traumaberading moet kry.

Sy het ook verwys na uitsprake deur politici wat rassehaat aanblaas en wat nie toegelaat kan word nie.

Francois Beukman van die ANC, het gesê die veiligheid en sekuriteit van alle Suid-Afrikaners moet ’n prioriteit wees. Die aard van plaasmoorde is brutaal, maar dit kan nie aan ’n spesifieke rede toegeskryf word nie. “Dit is nie ’n nuwe verskynsel nie.”

Beukman het gesê alle Suid-Afrikaners moet na oplossings vir plaasmoorde soek. Samewerking tussen gemeenskappe, polisie, georganiseerde landbou en munisipaliteite is nodig.

Albert Mncwango van die IVP het gesê plaasmoorde is meer as roof. “Ek is bekommerd dat ons die stryd teen misdaad verloor. Dit is buite beheer en ’n oudit is nodig om te sien wat die tekortkominge by die polisie is.

“Boere is besig om te vlug en ons voer meer mielies in as wat ooit vroeër die geval was.”

Ook Shaik Eman van die NFP het sy kommer oor voedselsekerheid uitgespreek en gesê as daar minder boere is, is daar minder voedsel. “Ons voer reeds net soveel in as wat ons gebruik. Die koste hiervan sal die armstes van die armes nog erger raak.”

Ander partye se kommentaar op die debat was negatief teenoor boere.

Mcebisi Filtane van die UDM het die omstandighede van plaaswerkers sterk veroordeel en gesê hulle word minder as mense behandel.

Andries Tlouamma van Agang het gesê boere moet ophou om arrogant te wees en ’n nie-rassige samelewing omhels. Volgens hom toon hulle geen genade nie en het hulle (wit mense) die dag wat demokrasie begin het, vervloek.

Hlengiwe Hlophe van die EFF het uitsluitlik op voorvalle gefokus waar wit mense swart mense vir ape aangesien en hulle geskiet het. Sy het gesê regse groepe was doodstil hieroor omdat die dood van swart mense vir hulle normaal is.

Soortgelyke plasings