| |

ANC moenie COVID-19 as rookskerm gebruik om NGV af te dwing nie

AfriForum veroordeel President Cyril Ramaphosa se stellings dat  die COVID-19-pandemie ’n bousteen vir die inwerkingstelling van nasionale gesondheidsversekering (NGV) is. Die burgerregteorganisasie sal ook voortgaan om die inwerkingstelling van dié vernietigende beleid te beveg.

AfriForum het sedert die aankondiging van die regering se NGV-plan ’n veldtog van stapel gestuur om dit teen te staan en mense volledig in te lig van die moontlike slaggate wat dit inhou. Die befondsing van die NGV gaan buitensporige bedrae behels en is eenvoudig onbekostigbaar – veral ná die enorme ekonomiese skade wat die inperking aangerig het.

Volgens Natasha Venter, woordvoerder van AfriForum se veldtog teen NGV, gaan die mate van werkverlies en verhoogde armoede – wat noodwendig op die inperkingsregulasies gaan volg – daartoe lei dat die belastingbasis wat hierdie skema moet befonds nóg kleiner gaan wees.

“Dit is ook dieselfde regering wat van mense verwag om hom met kragvoorsiening, korrupsiebestryding en die verantwoordelike bestuur van staatsinstellings te vertrou, wat nou van ons verwag om hom met ons gesondheid te vertrou.”

AfriForum is bekommerd dat die regering die COVID-19-pandemie gaan misbruik om hul agenda van ’n universele gesondheidstelsel te bevorder in ’n poging om die ekonomie (in die ANC se woorde) heeltemal te transformeer.

“Die regering se beloftes aan die publiek dat NGV die antwoord op alle gesondheidsprobleme in die land is, is vals – en nou nog meer as ooit tevore. Die inwerkingstelling van NGV sal uiteindelik daartoe lei dat die vlak van gesondheidsorg vir almal daal. Die enkele hoof- bydraende faktor wat universele toegang tot gesondheidsorg bepaal, is die per capita-inkomste van ’n land. Die krimpende belastingbasis kan eenvoudig nie nog ’n mislukte staatsbeheerde entiteit – waarin NGV uiteindelik sal ontaard – bekostig nie,” sê Venter.

 

AfriForum het verder begrip vir die privaat gesondheidsorgbedryf se onwilligheid om (volgens mediaberigte) ’n vaste koers vir die behandeling van COVID-19-pasiënte te aanvaar. “Ons deel die privaat sektor se vrese dat só ’n tipe ooreenkoms na afloop van die pandemie permanent gemaak kan word in ’n poging om NGV af te dwing. Ons het gesien dat die regering nie eers beloofde maatskaplike toelaes aan behoeftiges betyds kan uitbetaal nie. Dit dui daarop dat die privaat sektor geen waarborg het dat hulle betyds (of enigsins) vir hul werk vergoed gaan word nie,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings