|

ANC SAL DOM WEES OM WOEDE VAN MENSE OP GRONDVLAK TE IGNOREER

Deur Alet Rademeyer

’n Woede is onder gewone mense aan die opbou oor hulle steeds belasting moet betaal, terwyl hul hardverdiende geld deur die ANC-regering gesteel en deur amptenare aangewend word om hulself te verryk.

Só meen kenners wat vandag aan ’n sitkamergesprek van AfriForum deelgeneem het wat regstreeks op sosiale media uitgesaai is. Prof. Koos Malan, kenner in publiekreg, en Johan Kruger, hoof van  gemeenskapsontwikkeling by AfriForum het deelgeneem.

Malan meen korrupsie is nou reeds algemeen en so deel van die ANC se karakter en DNS. Die begin daarvan kan teruggevoer word na die jare tagtig en negentig en die era toe die wapenskandaal opslae gemaak het. Dit is vandag baie erger met ’n groot gros mense in die ANC wat glo dat hulle nie net salarisse as amptenare hoef te verdien nie, maar geregtig is op ander inkomste deur byvoorbeeld omkopery. “Korrupsie in die ANC dui ook nie op enkele mense nie. Die meerderheid glo dis deel van hul ampsbekleding om hulself te verryk.”

Hy meen ook pres. Cyril Ramaphosa is geensins onskuldig nie. Hy is al vir meer as ’n dekade in ’n posisie dat hy iets daaromtrent kon doen. Die ironie is ook dat dit juis onder sy leierskap is dat Swart Ekonomiese Bemagtiging versterk is, ’n elitistiese groep verder verryk is en daar ’n legitieme dekmantel vir korrupsie geskep is.

Hoe onhoudbaar die situasie ook al mag lyk, is daar ontwikkelinge en dinge aan die gebeur wat daarop dui dat gewone landsburgers nie langer hiervoor te vinde is nie.

Volgens Kruger is ’n weerstand aan die opbou en dit kan duidelik gesien word in die Koster/Swartruggens-situasie waar besorgde inwoners eenvoudig die hof genader en geëis het om dienste oor te neem wat hulle nie van die munisipaliteit kry nie.

“Instandhoudingsdienste vir water- en rioolnetwerke word nou suksesvol deur die gemeenskap gedoen tot groot verleentheid en woede van die ANC. Die gebeure wys egter dat gemeenskappe self iets kan doen.”

Ingevolge die hofbevel moet die munisipaliteit die inwoners wat die dienste lewer vergoed.

“Koster en Swartruggens is simptomaties van wat in die res van die land aangaan. Ons is oortuig dat meer gemeenskappe wettig na vore gaan tree en gaan eis om beheer oor dienste te neem wat hulle nie ontvang nie aangesien hulle oor die nodige kundigheid en ervaring beskik. ’n Sterk boodskap word aan die ANC gestuur dat inwoners keelvol is en nie langer gaan stilbly nie,” meen Kruger.

Malan meen die Koster/Swartruggens-geval is nog meer van ’n teer saak vir die ANC omdat dit glad nie oor ras gaan nie. Dit gaan hier oor probleme wat op intergemeenskaplike vlak opgelos word en tot almal se voordeel is.

Malan wys daarop dat belastingbetalers nie meer ’n morele verpligting voel om belasting te betaal nie omdat dit verkwis word. Daar is algemene konsensus dat mense belasting betaal in ruil vir dienste wat die staat moet lewer. Hierdie ooreenkoms het duidelik weens diefstal en korrupsie verval en betalers sien nie meer die regsmorele gronde waarom hulle moet betaal nie. Dit laat nou die ruimte vir ander benaderings en optrede rondom die betaal van belasting.

Dit is juis in die lig hiervan dat AfriForum tans aan ’n groter veldtog teen belasting werk.

Soortgelyke plasings