|

ANC-verslag deurspek met verdraaide feite, foute en rasgegronde aannames

AfriForum het vandag ’n verslag bekendgestel wat die ANC se opportunistiese pogings ontbloot om die geskiedenis te verdraai en Afrikaners as skurke en swart mense as slagoffers uit te beeld.

Dié verslag is onder leiding van die ideesentrum Opinor opgestel in reaksie op die presidensiële adviespaneel oor grondhervorming en landbou se finale verslag se gedeelte oor historiese konteks. Dr. Jackie Grobler, historikus, is die outeur van AfriForum se verslag.

Die regering se verslag is baie slordig, afgewater, vaag en onvolledig en dit lyk eerder of die outeurs net daarop ingestel was om inligting in te sluit om hul argumente te staaf en historiese regverdiging en motivering te probeer kry om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, meen Barend Uys, hoof van Navorsing by AfriForum.

“Die regering se verslag is baie slordig, afgewater, vaag en onvolledig en dit lyk eerder of die outeurs net daarop ingestel was om inligting in te sluit om hul argumente te staaf en historiese regverdiging en motivering te probeer kry om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.”

Barend Uys

Die onderliggende narratief in die verslag is een van Afrikaners/Europeërs wat skurke en swart mense wat slagoffers is. Dit word verwoord deur die gebruik van woorde soos afneem, beslag lê (confiscation), strooptogte (invasions) en verowering en onderwerping (conquest).

Voorts is daar verskeie feite foute in die verslag, betwisbare bewerings word gemaak sonder enige bronverwysings. Daar is ook inkonsekwente gebruik van terminologie soos Great Britain, Britain en England. Die term Europeërs word ook gebruik wanneer na Boere/Afrikaners verwys word. “Dit skep die indruk dat Boere/Afrikaners buitelanders is of was, terwyl die oorgrote meerderheid teen die einde van die 19de eeu reeds vir tien of meer geslagte hier gewoon het,” verduidelik Grobler.

Dr. Jackie Grobler

Grobler het op sy beurt uitgewys dat eenhede (soos akker en myl) wat gebruik word om die omvang van grond te beskryf, nie konsekwent is nie en ook nie aan burgers bekend is nie.

Wat volgens Grobler een van die mees basiese foute in verslagskrywing of verwysing na geskiedenis is, is die feit dat die outeurs van geen bronne gebruik gemaak het om hul argumente te staaf nie.

Nog ’n growwe veralgemening wat gemaak word is dat swart mense in die Vrystaat na 1854 van vrugbare landbougrond en weiding weggedryf is na droë, dorre en bergagtige dele. Soortgelyke veralgemenings word ook gemaak oor die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Grobler wys daarop dat van die gedeeltes waarheen inheemse bevolkings glo weggedryf is, algemeen bekend is as van beste landbougrond in die land.

“Die verslag is eintlik ook ’n belediging vir tradisionele gemeenskappe en hul voorvaders.”

Barend Uys

Die outeurs van die verslag poog ook om te wys dat Europeërs die hele land van Afrikane gekonfiskeer het sonder om ontwikkelings in die geskiedenis van grondeienaarskap in ag te neem. Hulle versuim om te verwys na die oorname van grond van die San en die Khoi Khoi deur mense wat swart tale gepraat het. Hulle verwys ook nie na die Difaqane wat tot die dood en ontworteling van tienduisende inheemse Suid-Afrikaners gelei het nie.

Grobler wys ook daarop dat die outeurs nie bewese navorsing in ag neem nie wat duidelik wys dat almal in Suid-Afrika afkomstig van migrante is en dat die hele land vroeër beset is deur mense wat van buite Suid-Afrika gekom het.

Uys wys ook daarop dat daar geen vermelding en verwysing in die verslag is na oorloë en gevegte oor grond waarmee Afrikaners niks te doen gehad het nie.

Barend Uys

Hy vind dit ook skokkend dat daar nêrens in die verslag melding gemaak word van die verdrae en samewerkingsooreenkomste wat tussen Afrikaners en ander etniese groepe gesluit is nie. “Die verslag is eintlik ook ’n belediging vir tradisionele gemeenskappe en hul voorvaders.”

Uys sê dit is problematies dat die geskiedenis verwring word om ideologiese doelwitte te bereik en ’n politieke agenda te dien. “Dit is noodsaaklik om eerlik met die verlede om te gaan sodat daar lesse uit die verlede geleer kan word. Dit is duidelik dat die regering nie met die geskiedenis vertrou kan word. Daarom moet kultuurgemeenskappe self verantwoordelikheid neem en saamwerk om die waarheid in gedeelde geskiedenis te ontdek en dan te benut om die verlede, en daarom die toekoms, te normaliseer.”

Soortgelyke plasings