#AnkerdorpPadskou: Só het Nelspruit gewerskaf


Die burgerregte-organisasie AfriForum se #AnkerdorpPadskou-veldtog is in Junie in Nelspruit gehou waartydens verskeie selfdoen-, skoonmaak- en veiligheidsaksies aangepak is.

Die Nelspruit-tak het tydens die tweede helfte van die maand veral op die netheid van en veiligheid in Nelspruit gefokus.
’n Skoonmaakaksie is langs die R40 vanaf Mediclinic Nelspruit tot by Nelspruit Lodge gehou waartydens vullis langs dié hoofroete verwyder is. ’n Tweede skoonmaakaksie is saam met die We Care 4 Nelspruit-span in die Village Park-omgewing aangepak. AfriForum se Nelspruit-tak help om dié inisiatief elke maand te befonds en asblikke is aan We Care 4 Nelspruit geskenk. Die tak het verder worsbroodjies verkoop en die wins is aan die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) geskenk.
Die vleiland voor Lowveld High School is skoongemaak aangesien Innibos-feesgangers daardeur moes beweeg.

“Die vleilande in Nelspruit is ’n groot kopseer. Vinniggroeiende plante en sluipslapers veroorsaak dat hierdie gebied vinnig bebos en bemors word. Dit is juis hieroor dat ons op die netheid van dié gebiede fokus,” sê Devon McCullough, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak.
“Vanuit hierdie skoonmaakaksies is dit duidelik dat daar ’n tekort aan asblikke is en daarom gaan daar met die munisipaliteit geskakel word om die tak met dié probleem te help. Indien inwoners of sake-eienaars by die projek betrokke wil raak, kan hulle ons gerus kontak,” sê McCullough.

Werknemers van UniWisp en Coastal Plant Hire is ook tydens die tweede helfte van die padskou met pizza bederf.
Veiligheidsinisiatiewe is rondom die Innibos-feesterrein van stapel gestuur om mense se veiligheid tydens die fees te verseker. Lede van Nelspruit Concerned Citizens (NCC) en AfriForum se buurtwagte in Nelspruit, Witrivier en Machadodorp het saamgewerk om feesgangers te beveilig. Daar is tydens die Vrydagaand se vertoning daarop gefokus om dwelmverkope te verhinder en ’n poging tot motordiefstal is afgeweer.

“Ons is dankbaar dat ons hierdie projekte in Nelspruit kon aanpak en die gemeenskap daarmee kon help. Die #AnkerdorpPadskou het ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap gemaak,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Die tak is reeds na afloop van dié veldtog besig om nog aksies en projekte te beplan, waarvan een weer by die Pro Gratia Skool gaan plaasvind. Enigiemand wat tot toekomstige projekte wil bydra of betrokke wil raak kan Bekker by hennie.bekker@afriforum.co.za kontak.

Soortgelyke plasings