|

#AnkerdorpPadskou-veldtog skep hoop in Secunda

Die burgerregte-organisasie AfriForum se #AnkerdorpPadskou-veldtog is hierdie maand in Secunda en die plaaslike AfriForum-tak het tot dusver veral op bemarking, sake-ondernemings en veiligheid in die dorp gefokus.

AfriForum het reeds einde September ’n bemarkingstalletjie by die Landbouskou in Secunda beman, sowel as by die Cansa Relay for Life op 5 Oktober, waar AfriForum Jeug ook ’n 6 km-fietspretrit aangebied het.

Werknemers van die Echo/Ridge Times- en The Bulletin-koerante is in die eerste week van Oktober met pizza bederf vir hulle bydrae tot die gemeenskap.

AfriForum se buurtwag in Secunda, in samewerking met die SAPD, het op Vrydag 4 Oktober aan AfriForum se nasionale patrollie deelgeneem. Die patrollie het van 18:00 tot 3:00 die volgende oggend geduur. Altesaam 38 AfriForum-lede, sowel as 97 lede van die SAPD en ander sekuriteitsmaatskappye het die omgewing met 45 voertuie gepatrolleer en nagenoeg 1 414 man-ure afgelê.

Die Secunda-buurtwag het verder tydens die naweek van 12 Oktober 2019 opleiding ontvang oor hoe om voertuie en huise te nader. Daarna het die buurtwag nog ’n massapatrollie gehou om sigbaarheid in die dorp te verhoog. Tydens dié patrollie het die buurtwag bystand aan Secunda se Zello-radiokanaal gelewer.

“Ons is dankbaar dat ons reeds verskeie projekte kon aanpak om die gemeenskap bewus te maak van AfriForum se teenwoordigheid in die dorp. Ons wil graag ’n daadwerklike verskil in Secunda maak en die #AnkerdorpPadskou is ’n uitstekende geleentheid om die gemeenskap op elke moontlike manier by te staan,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distriks­koör­di­neerder vir die Hoëveld.

Soortgelyke plasings