|

Apiesrivier-buurtwag vind R20 000 se gesteelde vee terug

AfriForum se Apiesrivier-buurtwag het gedurende die Paasnaweek verskeie gesteelde vee ter waarde van R20 000 teruggevind wat aan kleinhoewe-eienaars behoort.

Saterdagaand het twee van die buurtwaglede op ’n alarm gereageer wat op ’n kleinhoewe afgegaan het. By nadere ondersoek is vasgestel dat die alarm geaktiveer is nadat ’n verdagte ’n skaap tot by die kleinhoewe se grensdraad gedra het. Te danke aan die vinnige reaksie van die buurtwaglede het die verdagte die skaap gelos en gevlug. Die skaap is aan die eienaar terugbesorg, maar met die nagaan van die grensdraad is gevind dat die heining op twee verskillende plekke geknip is.

Maandagoggend omstreeks 02:45 het lede van die Apiesrivier-buurtwag op skape en bokke afgekom wat in die rigting van Soshanguve aangejaag is. Altesaam 16 vee is teruggevind, maar die verdagtes het gevlug. Die buurtwaglede het die vee in veilige bewaring geplaas totdat die eienaar later die dag vanaf Limpopo gekom het om sy vee te kom haal.

“Die hoë sigbaarheidsoptredes van AfriForum se Apiesrivier-buurtwag het verseker dat gemeenskapslede nie duisende rande se skade ly nie. Daar is tans ’n tendens waar vee gesteel word, en daar word ’n beroep op boere gedoen om meer waaksaam te wees,” sê Craig Brown, ondervoorsitter van AfriForum se Apiesrivier-tak.

“Dit is al oor en oor bewys hoe waardevol dit is wanneer ’n gemeenskap by hul plaaslike AfriForum-buurtwag aansluit en met ander veiligheidstrukture saamwerk om hul gemeenskap te beveilig en skade te verminder,” sluit Llewellynn Hemmens, AfriForum se hoof van veiligheid in die noordstreek.

Soortgelyke plasings