|

Balju moet ‘belastingplunderaar’ Brian Molefe se bates opskryf

Brian Molefe, voormalige hoof van Eskom, het die einde van die regsroete bereik nadat hy alles moontlik probeer doen het om nie R10 miljoen se pensioengeld terug te betaal nie.

Molefe staar nou privaatvervolging deur AfriForum se adv. Gerrie Nel in die gesig nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) nog nie met stappe teen hom begin het ná ’n bedrogklag van Solidariteit nie.

Benewens die moontlike instelling van privaatvervolging het Solidariteit ook  ʼn lasbrief bekom om beslag op Molefe se goedere te lê vir skuld aan Solidariteit nadat ’n kostebevel teen hom bekom is. Solidariteit het vanoggend gevra dat die balju voortgaan met die uitvoering van die beslaglegging van Molefe se goedere by sy huis in Cornwall Estate, Pretoria. Die goedere sal dan op ʼn openbare veiling verkoop word sodat Molefe se skuld van R708 102 aan Solidariteit vereffen kan word. Hierdie bedrag sluit die kostebevel in die Konstitusionele Hof uit. ʼn Finale taksering van hierdie koste moet nog gedoen word.

Nel het gesê die onwilligheid en onvermoë van die NVG en die SAPD om teen korruptes op te tree, verlam die regstelsel. “Daar is ’n oorverdowende stilte van die NVG en Valke wanneer dit by vervolging van mense met politieke verbintenisse kom.”

Volgens Nel het die NVG en SAPD twee jaar tyd gehad om die aanklagte teen Molefe te ondersoek. ’n Besluit moet nou geneem word of privaatvervolging moet plaasvind. Dit is nodig omdat Eskom-werknemers, wat lid van die vakbond is, se pensioenfondse direk geraak word deur Molefe se selfverryking en onregmatige optrede, meen Nel.

Die stappe teen Molefe volg nadat die Pretoriase hooggeregshof vroeër bevind het dat Molefe self betrokke was by die onregmatige toekenning van sowat R30 miljoen se pensioengeld aan hom. Hy het reeds R10 miljoen daarvan ontvang.

Die regters het in hul uitspraak gesê: The decision by Eskom to waive penalties and buy Mr Molefe an extra 13 years of service totalling R30,1 million after only 15 months’ service at the age of 50 stretches incredulity and is unlawful … What is most disturbing is the total lack of dignity and shame by people in leadership positions who abuse public funds with naked greed for their own benefit without a moment’s consideration of the circumstances of fellow citizens who live in absolute squalor throughout the country with no basic services.

Dit is op grond van dié uitspraak dat Solidariteit ʼn klag teen Molefe ingedien het by die SAPD en die NVG se spesiale ondersoekeenheid.

Molefe het sy rieme ook in die Konstitusionele Hof styfgeloop waar hy gepoog het om hierdie uitspraak en die kostebevel teen hom omver te werp.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê Suid-Afrika is die afgelope maande deur die Zondo-kommissie en ander mediaberigte en gebeure gekonfronteer met bewerings van miljarde rande se bedrog en wanbestuur by verskeie openbare instellings. “Wat egter duidelik uit die kommissie en andersins na vore kom, is ʼn totale gebrek aan verantwoordbaarheid. Suid Afrika mag nie langer toelaat dat belastingplunderaars sonder gevolge wegkom nie.

“Molefe is een so belastingplunderaar wat homself verryk het deur onregmatig betrokke te wees by die toekenning van ongeveer R30 miljoen se pensioengeld, waarvan hy R10 miljoen reeds ontvang het.”

Hermann sê Solidariteit het ook reeds voorheen ʼn skrywe aan die Eskom-pensioenfonds gestuur waarin gevra is dat stappe gedoen moet word om die R10 miljoen wat Molefe reeds ontvang het, van hom te verhaal. Die pensioenfonds het aangedui dat hulle wag tot na die uitspraak van die Konstitusionele Hof voor hulle met die terugvordering van die R10 miljoen begin. Solidariteit het vanoggend ʼn skrywe aan die pensioenfonds gestuur waarin die fonds gevra is om onmiddellik voort te gaan met die invordering van die uitstaande geld. Solidariteit het ook reeds begin met voorbereiding vir regstappe om verdere druk op Eskom en die pensioenfonds te plaas om nie net die geld terug te vorder nie, maar ook verdere toepaslike stappe teen Molefe in te stel.

Dit sal nie die einde van stappe teen Molefe wees nie. Tydens voorleggings voor die Zondo-kommissie is Molefe, wat Transnet in ’n stadium gelei het, Anoj Singh en Siyabonga Gama as die argitekte van staatskaping by dié maatskappy voorgehou. Strafregtelike klagtes is reeds teen hulle ingedien om miljoene rande weens onreëlmatige kontrakte en wanbestuur terug te kry.

Adv. Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit, het al die regstappe teen Molefe uiteengesit en gesê “sy dag van afrekening is hier”.

 

Soortgelyke plasings