|

Barry Bateman en AfriForum se Privaatvervolgingseenheid snoer kragte saam

Die prominente joernalis Barry Bateman sluit by AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan as kommunikasiebestuurder. Bateman het die nuus vanoggend in ’n video op Twitter aangekondig.

In sy nuwe rol sal Bateman daarop fokus om van die binnewerking van die werk wat die privaatvervolgingseenheid doen na die voorgrond te bring en lig te werp op sake wat nie altyd die koerantopskrifte haal nie. Bateman sal ook in diepte skryf oor die konsep van privaat vervolging.

“Sowat twee dekades gelede toe ek besluit het om ’n joernalis te word, was die primêre motiverende faktor die kwessie van aanspreeklikheid. My motivering het nie verander nie. Ek het nie twee keer daaroor gedink toe ek die geleentheid gekry het om by advokaat Gerrie Nel en sy span by AfriForum se privaatvervolgingseenheid aan te sluit nie.

Bateman het oor die jare erkenning gekry vir sy werk: Hy is in 2012 by die Taco Kuiper Ondersoekende Joernalistiek-toekennings erken. In 2013 was hy onder die Mail & Guardian se 200 Jong Suid-Afrikaners, en in 2014 het Media Magazine hom in hul lys van Top 40 Onder 40 ingesluit. Hy het ook die Nasionale Persklub se Joernalis van die Jaar gewen.

In 2014 was Bateman mede-outeur van die boek, Behind the Door saam met sy kollega Mandy Wiener. Dié Oscar Pistorius en Reeva Steenkamp-verhaal was die mees omvattende vertelling van die tragedie wat in 2013 plaasgevind het.

“Baie van die grootste stories wat ek in my loopbaan nagejaag het, was om diegene in mag verantwoordbaar te hou vir hul aksies. Om by Nel se span aan te sluit sal bydra tot daardie werk, al is dit vanuit ’n ander perspektief. Ek sien uit daarna om die gaping tussen die ongelooflike werk wat die eenheid doen en nuuskantore regoor die land te oorbrug,” sluit Bateman af.

“Barry is nog ’n pyl in ons koker om selektiewe vervolgings en die ineenstorting van die Strafregstelsel te hanteer. Hy bring ’n indrukwekkende stel vaardighede wat ongetwyfeld ons strategie sal aanvul om die konsep van privaat vervolging verder te vestig en te ontwikkel,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings