|

Basiese skietopleiding bemagtig lede in die Bo-Karoo

AfriForum se Bo-Karoo-tak het van 30 Mei tot 4 Junie aan ongeveer 28 mense van Orania, Douglas en Modderrivier basiese skietopleiding in samewerking met Leo Prinsloo aangebied.

Op Orania het agt mense hulself op die skietbaan kom bemagtig. Hulle het geleer hoe om hul wapens doeltreffend te gebruik om hulself en hul naastes te kan beskerm.

Twaalf van Douglas se lede het op die skietbaan geleer dit is belangrik om fiks te wees om sodoende doeltreffend onder druk te kan funksioneer. Hulle het ook geleer om basiese noodhulp toe te pas indien een van die spanlede raakgeskiet sou word.

Op Modderrivier het agt van die lede nie net geleer hoe om agter skuiling te skiet nie maar ook om ’n beseerde spanlid van punt A na punt B te verskuif.  

“Ons het hierdie week mekaar beter leer ken en bande gebou wat veral handig te pas kom in noodsituasies. Ons het gepraat oor moontlike scenarios wat ons hoop nooit gaan gebeur nie, maar hoe ons voorbereid kan wees,” sê Magdaleen Kleynhans, voorsitter van die Bo-Karoo-tak.

Die Bo-Karoo-streek is besig om ’n netwerk te vorm van mense wat nie net vaardig is met wapens nie, maar wat mekaar ook goed genoeg ken om te weet hoe die ander in ’n noodsituasie sal optree. “Ons probeer met hierdie opleiding ons lede bemagtig om self oplossings vir daaglikse probleme te kry,” sluit Kleynhans af.

Soortgelyke plasings