Beëindiging van ramptoestand is bloot simbolies

Die regering het vandag die beëindiging van die ramptoestand aangekondig ná die burgerregteorganisasie AfriForum en ander organisasies regsaksie geneem het. Hierdie aankondiging gaan egter nie veel aan die status quo verander nie aangesien die huidige COVID-19 regulasies steeds vir nog ‘n maand in plek sal bly waarna die regering se kontroversiële gesondheidsregulasies in werking sal tree.

Die nuwe gesondheidsregulasies kom neer op die permanente wetlike inwerkingtreding van die veronderstelde tydelike maatreëls, wat kragtens die Wet op Rampbestuur aan die regering verleen is. Dit beteken dat die meerderheid van die COVID-19 maatreëls steeds in plek sal bly en van die maatreëls wat in die hof geskrap is, soos gedwonge kwarantyn, sal weer in werking tree.

AfriForum is besig om regskommentaar voor te berei wat die nuwe gesondheidsregulasies teen staan. Dié kommentaar sal die irrasionele en onwettige aard van hierdie regulasies uiteensit.

“Die regering se beëindiging van die ramptoestand moet as bloot simbolies gesien word aangesien die regering beplan om die COVID-19 maatreëls permanent in die gesondheidsregulasies te vervat. Ons as AfriForum is sterk en onomwonde gekant teen die regering se slinkse en magsbehepte optrede. Ons is dit aan ons lede en ook die breër publiek verskuldig om hierdie verregaande misbruik van mag te verhoed,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

AfriForum het saam met die regskommentaar ook ‘n petisie teen die voorgestelde gesondheidsregulasies opgestel. Die petisie is reeds deur sowat 25 000 mense onderteken.

Soortgelyke plasings