Begroting 2022: Los die privaat sektor uit

Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel die regering se voorneme om sy rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie te verskerp. Die Minister van Finansies, Enoch Godongwana het hierdie aankondiging vandag tydens die 2022 Nasionale Begrotingsrede gemaak. 

Om werklike ekonomiese groei te bewerkstellig moet die regering oortollige belasting op die privaat sektor verlig en besnoei op sy eie interne spandering op salarisverhogings en bonusse. Verdere rede tot kommer is die uitbreiding van Suid-Afrika se staatskuld wat tans reeds op R69 291 per landsburger neerkom. Om ons skuld te onderhou het die land se enkele grootste uitgawe geword.

Die begrotingsrede het ook die staat se voorneme bevestig om mislukte ondernemings in staatsbesit aan die lewe te probeer hou deur verdere druk op reeds oorlaaide belastingbetalers te plaas.

“Gedurende die toespraak het Godongwana grootliks die ellendige toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie op COVID-19 blameer. Dit verontagsaam geheel en al die feit dat Suid-Afrika se ekonomie lank voor die uitbreek van die virus aan flarde was en dat dit die regering se drakoniese inperkings is wat werklik skade aan die ekonomie berokken het. Om werklike ekonomiese groei teweeg te bring moet die regering ophou om in die mark in te meng en oortollige belasting op die privaat sektor verlig. Daarom is die verdere verspreiding van die staat se rol en invloed in die ekonomie net nog ’n stap in die verkeerde rigting,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Soortgelyke plasings