|

Belfast-tak loods volhoubare projek om erfenis te bewaar

Die AfriForum-tak in Belfast het op 14 Mei in samewerking met die Mpumalanga Erfenisbeweging besoek afgelê by van die mees prominente geskiedkundige terreine in Belfast.  

Die besoek was daarop gemik om die publiek bewus te maak van die waardevolle historiese monumente in die Belfast-omgewing. Daar is onder meer besoek afgelê by die Geloftemonument wat opgerig is ter herdenking van die Gelofte wat voor die Slag van Bloedrivier afgelê is, en die Belfast-konsentrasiekampbegraafplaas vir soldate wat in die Tweede Anglo-Boereoorlog gesneuwel het.

Ter voorbereiding vir hierdie besoek, het AfriForum se Belfast-tak die konsentrasiekampbegraafplaas opgeruim deur die gras te sny en indringerplante te verwyder. Hiermee het die tak ook ’n projek geloods om hierdie begraafplaas op ’n permanente basis skoon en netjies te hou.

“Dit is vir ons belangrik om ons geskiedenis te bestudeer en groot gebeurtenisse te herdenk. Juis om hierdie rede het die Belfast-tak besluit om betrokke te raak by die dag en met die permanente instandhouding van die konsentrasiekampbegraafplaas,” sê Johan Boshoff, takvoorsitter in Belfast.

“Dit is vir ons ’n voorreg om ons kultuur en die gepaardgaande monumente te herdenk en te bewaar vir ons nageslagte. Ons moet kyk na die verlede om te bou vir die toekoms en daarom het ons besluit om betrokke te raak by die projek,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Belfast-tak nooi lede van die publiek uit om deel te word van die projek.

Soortgelyke plasings