Benoni-gemeenskap stuur enorme skoonmaakprojek van stapel

AfriForum se Benoni-tak het op 22 Februarie 2020 aan die 200% Foundation se #CleanMyBenoni-inisiatief deelgeneem. AfriForum se deelname aan die projek was belangrik omdat dit dien as bewys dat dié organisasie sy lede doelgerig ondersteun in die geveg om dorpe terug te neem.

Die skoonmaakprojek is in die Benoni Plaza van stapel gestuur – ’n plek wat eens geliefd was en deur baie inwoners besoek is. Swerwers en dwelmverslaafdes woon egter nou daar in haglike omstandige en dit het ’n gevaarsone vir die publiek geword.

AfriForum was verantwoordelik vir die beheer en monitering van al die skoonmaaktoerusting, wat harke, besems, grawe, verskeie skoonmaakmiddels en vullissakke ingesluit het. AfriForum het ook die sekuriteit behartig. Die geleentheid was ’n reusesukses en is deur die SAPD, Ekurhuleni Metropolisie, DA- en ANC-raadslede, die Benoni-sakekamer, ER24 en verskeie ander organisasies ondersteun.

Gedurende die skoonmaakprojek het AfriForum-lede wat die sekuriteit gemoniteer het die SAPD in kennis gestel van ’n dwelmtransaksie wat in die omtrek plaasgevind het. Die lede het die verdagte suksesvol aangekeer en hy is deur die SAPD in hegtenis geneem. Verskeie dwelms is gekonfiskeer. Ander versteekte dwelms is ook in die gebou gevind en aan die polisie oorhandig.

“Ná die geleentheid het AfriForum ’n sertifikaat van waardering oorhandig aan Mev. Manogari Moonsammy, uitvoerende hoof van die 200% Foundation, vir haar uitstekende diens aan die plaaslike gemeenskap. AfriForum sal aanhou om lede en hul dorp met toewyding te ondersteun,” sê Archie Mouyis, voorsitter van AfriForum se Benoni-tak.

Sluit vandag by AfriForum se buurtwag aan en help om jou dorp veilig te hou: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings