|

Benoni-tak woeker tydens Junie met #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Benoni het gedurende Junie verskeie selfdoenaksies aangepak as deel van die organisasie se #OnsDorp-projek. Verskeie dele van die dorp is skoongemaak, terwyl noodsaaklike slaggate ook gevul is. Die tak het gras gesny op die sypaadjies van Stanleyweg, Negendestraat, op die hoek van Benoni- en Bodenweg, Great Northweg, en High-weg.

Die span van die Benoni-tak het ook ’n skoonmaakprojek gedoen tussen Princess- en Ampthill-laan, omdat die area met gras en onkruid toegegroei was. Hulle het gras gesny, onkruid verwyder, bome gesnoei en die onwettige kennisgewings wat oral geplak was, verwyder. ’n Veld in Mackenzie Park is ook skoon en netjies gemaak deur die tak, terwyl onwettige kennisgewings in Bunyanstraat verwyder is. Laastens het die tak slaggate gevul in Wattleweg, tussen Stokroos- en Dalhiastraat, in Northmead. Altesaam 24 slaggate, wat baie ongerief en risiko’s vir motoriste veroorsaak het, is met 17 sakkies teer gevul.

“Die #OnsDorp-veldtog is geloods om ons dorpe en woongebiede op te knap. Met die projek stuur ons ’n boodskap dat ons verantwoordelikheid neem vir ons gemeenskappe. Ons sal self ons dorpe onderhou as die verantwoordelike partye dit nie doen nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Dit is goed om te sien dat hierdie span van die Benoni-tak ’n verskil maak in die dorp. Dit sal baie lekker wees om nog meer inwoners deel te maak van hierdie selfdoenpoging en sodoende Benoni weer die mooi dorp te maak wat dit kan wees. Baie dankie ook aan elke AfriForum-lid wie se finansiële bydraes hierdie projek tot op hede moontlik gemaak het,” sê Achilles Mouyis, voorsitter van AfriForum se Benoni-tak.

Word vandag nog deel van AfriForum se Benoni-tak: SMS “Benoni” na 45340 (R1) of stuur ‘n e-pos na benoni@afriforumtak.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings