|

Besonderhede van ongesonde werksomstandighede ontbloot in aanrandingsverhoor van Gautengse adjunkspeaker

Sers. Lizzie Mojapelo, ’n beampte van die polisie se beskermings-en-sekuriteitsdienste, het beweer dat polisiebeamptes nie na die huis van die Gautengse adjunkspeaker, Vuyo Mhlakaza-Manamela, ontplooi wou word nie omdat sy hulle dikwels aan mishandeling onderwerp het. Die sersant het onder kruisondervraging haar weergawe van gebeure herhaal wat gelei het tot die opening van ’n saak van aanranding en crimen injuria teen die politikus.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid ondersteun Mojapelo nadat die staat aanvanklik geweier het om die saak te vervolg. Mhlakaza-Manamela het Dinsdag skuld op die aanklagte ontken.

Tydens kruisondervraging is Mojapelo oor haar verklaring uitgevra waar sy na bewering aan Mhlakaza-Manamela gesê het dat mense nie by die adres wil gaan werk nie. “Ek het vir haar gesê dat wanneer mense (SAPD-lede) geplaas word, dit groot moeilikheid veroorsaak (om hier geplaas te word) omdat mense nie aan sulke mishandeling onderwerp wil word nie,” het sy gesê.

Mojapelo het verder onthul dat bewyse van die voorval vermis geraak het. Sy het aan die hof gesê dat die voorvalleboek by die Manamela-huishouding, waarin sy die voorval opgeteken het kort nadat dit gebeur het, nie opgespoor kon word nie.

Die verdediging het moeite gedoen om geringe verskille in Mojapelo se beëdigde verklarings en haar hoofgetuienis te identifiseer. Sy was egter vasberade onder soms moeilike kruisondervraging en het die duidelikheid verskaf wat die hof nodig het.

Die saak is tot 27 Maart 2023 uitgestel.

Agtergrond

Die beweerde aanranding het in Februarie 2020 by die huis van Mhlakaza-Manamela en haar man, Bhuti Manamela, adjunkminister van hoër onderwys, plaasgevind. Mojapelo beweer dat die verdagte haar in ’n dronk woedebui erg aangerand het. Sy meld verder dat haar polisiehoofde haar nie wou help om ’n saak te open nie, maar eerder alles in hul vermoë gedoen het om daardie pogings te ontwrig.

’n Mediese ondersoek het bevestig dat Mojapelo veelvuldige beserings opgedoen het en het ook bevestig dat sy toe 11 weke swanger was. Sy het vaginale bloeding opgedoen en moes vrugbaarheidsbehandeling ontvang om te verseker dat haar swangerskap nie beëindig word nie.

Mojapelo, ’n ywerige en pligsgetroue polisiebeampte, het besonderhede van die beweerde aanranding stap vir stap gedokumenteer – van die voorvalleboek op die toneel van die misdaad tot die saamstel van aantekeninge van haar interaksies met aanklaers en ondersoekers. Ten spyte van die prima facie-getuienis teen Mhlakaza-Manamela, het die Nasionale Vervolgingsgesag geweier om die saak voort te sit.

Soortgelyke plasings