|

Blade se pleidooi vir moedertaalonderrig “verrassend” én “verwarrend”

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding, se nuwe deuntjie oor moedertaalonderrig word in sommige kringe verwelkom, maar in ander met agterdog bejeën.

Nzimande het vandeesweek by die bekenstelling van Universiteite Suid-Afrika (USA) gesê studente moet in hul moedertaal onderrig word omdat hulle dikwels met Engels sukkel en daarom swak op universiteit vaar. Hy wil egter nou hê dat Afrikatale tot akademiese en wetenskapstale ontwikkel word.

Dié verandering van houding val vreemd op die oor aangesien Nzimande hom in die verlede by verskeie geleenthede ten gunste van Engels as voorkeuronderrigmedium op universiteitsvlak uitgespreek het.

Nzimande het wel in 2012 ’n adviespaneel aangewys om hom raad te gee oor die ontwikkeling van Afrikatale as onderrigtale by universiteite. Die paneel het bestaan uit proff. Pitika Ntuli (voorsitter), Nompumelelo Jafta, Langalibalele Mathenywa en ­Zilibele Mtumane; drr. Lepono Boshego, Willem Botha en Sibi-swa Mdaka; mnr. Mpume Mbatha en mee. Jenny Kinnear, Sponono Mahlangu, Christina Mayevu, Engeline Netshiheni, Joyce Sukumane en Matodzi Raphalalani.

Die paneel moes alle bestaande beleid en die toepassing daarvan assesseer, asook wat die struikelblokke in die ontwikkeling van Afrikatale is. Hulle moes ook aanbevelings doen oor hoe Afrikatale aan instellings versterk kan word en watter infrastruktuur en menslike en finansiële hulpbronne daarvoor nodig is.

Sommige onderwyskundiges meen Nzimande se nuwe siening is waarskynlik hierdeur beïnvloed.

Dr. Michael le Cordeur, akademikus en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), meen dit is verblydend dat Nzimande en die regering uiteindelik die lig oor moedertaalonderrig gesien het. “Uiteindelik word kennis geneem van jarelange navorsing en uitsprake deur kundiges soos wyle prof. Neville Alexander.”

Le Cordeur meen egter die regering moet gemotiveer word om moedertaalonderrig van skoolvlak af in te stel. Hy sal byvoorbeeld graag wil sien dat beurse vir alle studente wat in Afrikatale wil studeer, gegee word sodat hulle die onderrig skoolvlak toe kan neem. “Ten minste erken die regering nou die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig en moet daar nou begin word om die steil bult uit te klim.”

Dr. Nerina Bosman, taalkenner verbonde aan die fakulteit geesteswetenskappe by die Universiteit van Pretoria (UP), sê dit is “wonderlike” nuus.

“Dit is veral goeie nuus nadat ’n mens onlangs bekommerd begin raak het oor geluide dat Kovies sy taalbeleid na net Engels wil verander. In ’n land soos Suid-Afrika is dit noodsaaklik dat ons eerder tale toevoeg as wegneem.”

Volgens Bosman is daar reeds goeie vordering gemaak met die uitbreiding van Afrikatale op universiteitsvlak soos die suksesvolle gebruik van tolkdienste by die Noordwes-Universiteit.

Sy het ook verwys na groot skenkings wat die departement aan Tukkies en Kaapstad gemaak het vir die ontwikkeling van terminologie-lyste in Afrikatale. “Dit kan aanduidend wees van die uitbreiding wat die regering dalk rondom moedertaalonderrig beplan. Beplanning en die wil om dit te maak werk, is egter van kritiese belang.”

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregte-organisasie is verras oor Nzimande se skielike uitsprake ten gunste van moedertaal, versus sy vroeëre aandrang op slegs Engelse universiteite en die persoonlike onderneming om toe te sien dat Afrikaanse universiteite gesluit word.

“Eerstens lei ons af dat wanneer hy na ‘Afrikatale’ verwys, hy Afrikaans uitsluit – in teenstelling met sy eie departement, asook die departemente van basiese onderwys en kuns en kultuur wat dit as Afrikataal erken.

“Hy gun skynbaar dus nie vir Afrikaanssprekende studente wat reeds ʼn taal het wat tot op die hoogste akademiese en wetenskaplike vlak ontwikkel het, die voorreg wat hy vir die ander 9 inheemse tale se sprekers gun nie.  Dit kom neer op growwe diskriminasie en bots lynreg met bepalings van die Grondwet.”

Bailey het gesê die feit dat hy Afrikaans tydens sy toespraak uitgesonder en geprys het, is eers vreemd.  “Sy weerspreking van homself gee ʼn mens verdere bevestiging van die gevoel dat die staat nie ernstig is oor enige beleid wat met taal handel nie.”

AfriForum stem saam met die beginsel dat meertaligheid bevorder moet word (veral op skoolvlak, maar ook opsioneel daarna), maar dan moet die nie-Engelstalige moedertaalsprekers ook ʼn redelike verwagting van indiensneming in hulle eie tale hê.

Tans word die benadering nie weerspieël in die meerderheid van die taalbeleide wat nasionaal deur departemente en ander staatsinstellings gepubliseer word, ter nakoming van die vereistes van die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (Wet 12 van 2012) nie.  Die meeste beleide maak in werklikheid net vir dienslewering en kommunikasie in Engels voorsiening.  As die staat en dan in die besonder Nzimande ernstig oor die bevordering van moedertaal is, is dit dringend noodsaaklik dat hulle aandag aan die kwessie gee, sê Bailey.

AfriForum stel op 30 Julie sy tweede video bekend vir sy Moedertaalonderrig-veldtog SLIM [Studeer en Leer in jou Moedertaal]

Ondersteun AfriForum en Moedertaalonderrig deur “SLIM” te SMS na 32340 (R1).

 

 

 

 

 

 

 

Soortgelyke plasings