|

Bloemfontein Skrywersvereniging-slypskool wil nuwe talent ontgin

Die burgerregte-organisasie AfriForum was vanjaar vir die vierde keer een van die hoofborge van die Bloemfontein Skrywersvereniging (BVS) se slypskool in kreatiewe skryfwerk, waartydens passievolle skrywers van verskillende ouderdomme en beroepe jaarliks byeenkom om hul skyftalent verder uit te bou.

Die BSV is in 1970 gestig en het ten doel om ʼn platform te bied vir opkomende en passievolle skrywers. Die klem val op die uitdagings en bevrediging van kreatiewe skryfwerk en elkeen beoefen die genre wat hom geval. Van hul hoofprojekte sluit verskeie skryfwedstryde en funksies is, waarvan die slypskool as ʼn hoogtepunt beskryf word.

Vanjaar se slypskool is deur die dinamiese digter, resensent en akademikus, prof. Joan Hambidge van die Universiteit van Kaapstad aangebied.

Sy het aan Forum Nuus gesê dat sy besluit het om deel te wees van dié geleentheid omdat dit ʼn passie van haar is om nuwe talent te ontdek en ontwikkel.

“Ek dink dit is belangrik om mense vir wie skryf ʼn passie is te help. Hulle moet weet dit is harde werk en leer van die verskillende prosesse wat gevolg moet word wanneer hulle skryf of dig.”

Sy het verder gesê dat sy baie sterk voel oor die belangrikheid van moedertaalonderrig en glo dat die regering tot dusver nie genoeg bygedra het om inheemse Suid-Afrikaanse tale te help ontwikkel nie.

“Terwyl moedertaalonderrig wêreldwyd deur intellektueles ondersteun en aangespoor word, word dit hier deur Suid-Afrikaanse politici van die tafel afgevee. Ek dink Afrikaans hoort hande te vat met ander inheemse tale in SA, want hulle moet ook sonder twyfel verder ontwikkel word.”

Catharina Müller, ʼn prokureur van Kaapstad wat verlede jaar tweede plek verwerf het in die BSV-skryfwedstryd se kortverhaal-afdeling, het aan Forum Nuus gesê dat hoewel sy haarself nie as ʼn digter bestempel nie, het sy vanjaar deelgeneem om blootgestel te word en meer oor digkuns te leer. “Skryf is vir my ʼn manier om te ontlaai en van my spanning ontslae te raak. Ek wou meer leer en sien of ek werklik potensiaal as ʼn skrywer en digter het.”

Sy sê voorts dat dit wonderlik is dat daar steeds vandag organisasies soos die BVS is en dat sy graag wil sien dat hulle verder groei.

“Ek dink dit is bemoedigend dat daar steeds vandag platforms soos die BVS is, veral in ʼn tyd waarin Afrikaans gemarginaliseer is. Ek sien baie uit daarna om te sien hoe hulle van krag tot krag gaan en verder ontwikkel.”

 

Soortgelyke plasings