Bloemhof-inwoners vra vir beter bestuur; AfriForum eis optrede


Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n dringende aksieplan van Kagiso Palagangwe, burgemeester van die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit, geëis nadat meer as 10 000 inwoners se elektrisiteit afgesny is weens wanbetaling deur dié munisipaliteit aan Eskom.
Die AfriForum-tak in Bloemhof het in samewerking met gemeenskapsleiers ’n vergadering oor dié elektrisiteitskrisis, sowel as ander diensleweringskwessies georganiseer. Die vergadering is deur nagenoeg 300 inwoners van verskillende woonbuurte, asook die burgemeester en ander munisipale amptenare by die stadsaal in Bloemhof bygewoon. AfriForum het ook ’n voorlegging oor dié kwessies gedoen en aan die burgemeester oorhandig. Hy het ontvangs van die beswaarskrif erken en onderneem om binne sewe dae skriftelike antwoorde te verskaf.
Volgens Alta Pretorius-Swart, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland, is dit duidelik dat nóg die burgemeester, nóg die raad antwoorde op die probleme het.

“Daar is ook nie geld om Eskom volhoubaar te betaal nie.”

Gemeenskapslede het onder die voorsitterskap van Albert Nel vrae oor diensleweringskwessies gevra wat nie bevredigend deur die burgemeester beantwoord kon word nie. Talle inwoners het daarom die vergadering uit frustrasie verlaat en ’n gemeenskapskomitee kon nie verkies word nie. Vrywilligers het aangebied om op die komitee te dien. Die oorblywende gemeenskapsIede het saamgestem dat AfriForum se Bloemhof-tak intussen die toestand sal monitor.

“AfriForum onderneem om volgehoue druk op die munisipaliteit toe te pas en doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te bly,” sê Pretorius-Swart.

Wys jou steun vir AfriForum: SMS “Bloemhof” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings