|

Blou- en Groendruppelverslag: Rioolwerke in Suid-Afrika ’n groot bron tot kommer

AfriForum verwelkom dat die regering vir die eerste keer sedert 2013 hul Blou- en Groendruppelverslag bekend gemaak het. Dié verslag beklemtoon egter munisipaliteite se water- en rioolprobleme wat AfriForum jaarliks in sy eie blou-en-groendruppelverslag aandui. 

AfriForum is sedert 2013 genoodsaak om ’n blou-en-groendruppelverslag saam te stel omdat die Departement van Water en Sanitasie dit ondanks AfriForum se jaarlikse versoeke nie gedoen het nie.

Luidens die regering se bloudruppelresultate is:

  • 48% (566) van die voorsieningstelsel in die laerisikokategorie,
  • 18% (217) van die voorsieningstelsel in die mediumrisikokategorie,
  • 11% (136) van die voorsieningstelsel in die hoërisikokategorie, en
  • 23% (267) van die voorsieningstelsel in die kritiekerisikokategorie.

“Die verslag dui aan dat baie van die waterdiensowerhede nie vloeimeters het nie, wat beteken hulle kan nie die kapasiteit van aanlegte meet nie en dus is data nie akkuraat nie. Die gebruik van vloeimeters om akkurate data te bekom, is kragtens die Wet op Waterdienste ’n vereiste en die gebrek daaraan hou groot risiko’s in,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake.

Volgens De Klerk is die ander groot bekommernis die tekort aan tegniese vaardighede by heelwat aanlegte. Slegs 12% van aanlegte het uitstekende tegniese vaardighede terwyl 61% uiters swak tegniese vaardighede het.

“Die verslag toon duidelik dat die gehalte van die land se water op die afdraande pad is en dat die Departement van Water en Sanitasie en die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake baie nou sal moet saamwerk om die waterprobleme uit die weg te ruim,” sê De Klerk.

Die groendruppelverslag skets ’n baie donker prentjie aangesien slegs 23 van 850 (2,3%) rioolaanlegte aan die groendruppelstandaarde voldoen. Die slaagpersentasie vir rioolwerke is 90%, maar 334 rioolwerke (64%) het minder as 31% behaal terwyl die gemiddelde nasionale telling 37% is. Die rioolwerke in die Vrystaat het ’n gemiddeld van 26% behaal terwyl Noordwes se rioolwerke 30% en Limpopo 29% behaal het.

“Dit is ’n groot bron tot kommer en die Departement van Water en Sanitasie sal moet fokus op die aanlegte wat nog ‘gered’ kan word. Die departement het nou geen ander keuse as om die privaat sektor en gemeenskappe om hulp te nader nie. As ’n mens na die Koster-saak kyk, is dit duidelik dat die antwoord in die krag van gemeenskappe lê.

“Die grootste vraag is egter of daar enige gevolge gaan wees vir die munisipaliteite wat die land se waterbronne al vir jare wetend besoedel. Die departement moet nou tande wys en byt waar hulle kan om diegene wat besoedel krimineel te vervolg terwyl hulle probeer om van die aanlegte te red,” sê De Klerk.

AfriForum sal ook sy moniteringsrol bly vervul en aanhou om jaarliks ’n blou-en-groendruppelverslag te publiseer.

Soortgelyke plasings