|

‘BLY KALM, WEES INGELIG EN ORGANISEER’ SÊ SOLIDARITEIT BEWEGING

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die Solidariteit Beweging het vandag ’n beroep op die publiek gedoen om kalm, ingelig en georganiseerd te bly te midde van die onluste wat sekere dele van die land teister sedert oudpres. Jacob Zuma se inhegtenisneming verlede week.

Zuma dien tans tronkstraf in die gevangenis in Estcourt uit nadat die Konstitusionele Hof hom aan minagting van die hof skuldig bevind het. Hy is ’n vonnis van 15 maande opgelê.

Sosialemediaplatforms word oorheers met beeldmateriaal van plunderaars wat brandende winkels leeg dra en nasionale paaie versper. Tot op hede is amper 1 300 mense in hegtenis geneem en die dodetal staan tans op 72.

Leiers uit die Solidariteit Beweging het vandag tydens ’n mediakonferensie egter beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat die publiek te midde van dié onluste hulle weerbaarheid opskerp en by plaaslike buurtwagte aansluit.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die faksiegevegte in die ANC, wat aanvanklik tot die plundery in veral dele van KwaZulu-Natal en Gauteng aanleiding gegee het, ʼn platform gebied vir kriminele elemente om die situasie te misbruik om te steel en te buit. Hy sê dit is onverskoonbaar dat die regering nie voorsiening vir dié gebeure gemaak het nie. “Staatskaping en die voortsetting van wetteloosheid was die droë hout, swak ekonomiese bestuur, staatsverval en werkloosheid die petrol en die ontduiking van die reg en die feit dat kriminele hulself bo die wet verhewe, die vuurhoutjie wat tot dié veldbrand gelei het.”

Volgens Buys is dié rampokkery nie net deur armoede gedryf nie en kan dit nie aan enkele gemeenskappe toegeskryf word nie. “Wetsgehoorsame mense uit alle gemeenskappe probeer nou saam staan. Ons sien selfs hoe taxi-verenigings hul gemeenskappe en besighede teen die protesoptredes probeer beskerm.”

Hy het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om die orde te herstel en die skuldiges aan te keer. Hy het ook die publiek aangemoedig om egter nie hul veiligheid en dié van hul gesinne en gemeenskappe net aan die owerhede oor te laat nie want hulle kan self baie doen om hul eie weerbaarheid binne die raamwerk van die wet te verskerp. Hy het mense aangemoedig om by een van AfriForum se buurtwagte, wat landwyd gevestig is, of by enige ander gemeenskapsveiligheidstrukture aan te sluit. “As jy jou bure beskerm, kan julle saam julle gemeenskap beskerm.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het hierby aangesluit en gesê georganiseerde gemeenskappe hoef nie in vrees te verval nie en kan kalm bly in die wete dat hul veiligheid in hul eie hande is. “Alleen is jy uitgelewer, maar saam is ons sterker en die totale ledetal van die Solidariteit Beweging is meer as ’n half miljoen mense sterk.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Hy het die publiek aangemoedig om hulself op twee belangrike feite te berus, naamlik dat die plunderaars ’n klein groep ekstremiste met groot sigbaarheid is wat sekere gebiede en paaie teiken en dat gemeenskappe nie magteloos is nie. “Dit is belangrik dat ons nie verder vrees kweek en sê ‘die hele land brand af nie’. AfriForum het die afgelope paar jaar baie hulpbronne daarin belê om gemeenskapsveiligheidstrukture tot stand te bring en beskik reeds oor 159 buurtwagte, ʼn netwerk van beheerkamers, ʼn landwye radionetwerk, 12 500 buurtwag-vrywilligers, ʼn lugvleuel met 53 hommeltuig-vlieëniers en goed opgeleide personeel en vrywilligers. Benewens dit werk AfriForum saam met ʼn netwerk van ander buurtwagte, GPF-strukture, sekuriteitsmaatskappye en op talle plekke met plaaslike polisiestasies,” het Kriel gesê.

Hy het ook benadruk dat AfriForum se veiligheidstrukture sterk gedragskodes het en wil bydra tot vrede en stabiliteit en nie konflik nie. “Die geskiedenis het gewys dat noodtoestande mense kan laat saamtrek. Dié verleentheid skep ’n geleentheid vir gemeenskappe om saam te staan en wet en orde te handhaaf.”

Volgens Kol. Jan Wessels, AfriForum se Hoof van Gemeenskapsveiligheid, het AfriForum reeds by die aanvang van die onluste sy bestaande gemeenskapsveiligheidsplanne in werking gestel deur AfriForum se buurtwagte op bystand te plaas. Wessels het daarop gewys dat AfriForum se beheerkamers en grondvlakstrukture die situasie fyn monitor en dat riglyne aan AfriForum se buurtwagte gestuur is om hul bestaande veiligheidsplanne verder te verfyn met inagneming van die huidige omstandighede.

Kol. Jan Wessels, AfriForum se Hoof van Gemeenskapsveiligheid.

“Buurtwagte is gevra om sigbaarheid te verhoog en mekaar en ander rolspelers waar nodig by te staan. AfriForum gaan nie by die konflikte op snelweë en ander prominente plekke betrokke raak nie, maar gaan wel al ons aandag fokus om binne die raamwerk van die wet gereed te wees om die veiligheid van woonbuurte waar ons funksioneer te help verseker,” het Wessels gesê.

Buys, Kriel en Wessels het AfriForum-buurtwaglede ook bedank vir die werk wat hulle in hul gemeenskappe doen. “Daar waar verval is, moet ons herbou en daar waar afgebreek word moet ons beskerm,” het Buys afgesluit.

Die Solidariteit Beweging doen ook ʼn beroep op lede van die publiek om die Beweging se Krisisfonds te steun om Helpende Hand in KwaZulu-Natal in staat te stel om lewensmiddele aan lede van die gemeenskap beskikbaar te stel. Gebruik dié skakel om by te dra: www.krisisfonds.co.za. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za om by een van AfriForum se buurtwagstrukture aan te sluit.

Soortgelyke plasings