|

BOEDELBEPLANNING NOODSAAKLIK OM UITVOERING AAN LAASTE WENSE TE GEE

’n Mens hoor al te dikwels nog van individue wat te sterwe kom sonder dat hul ’n behoorlike testament gehad het. Nie net het dit ernstige implikasies oor wat met die nalatenskap van gestorwenes gebeur nie. Dit veroorsaak enorme hartseer, trauma, pyn én frustrasie vir erfgename, begunstigdes én eksekuteurs wat agterbly en skielik met geweldige administratiewe en ander probleme opgesaal is. Frik Hennop, ’n AfriForum-lid en prokureur van Pretoria, het uit hoofde van sy jarelange ervaring, hierdie artikel oor die administrasieproses van bestorwe boedels vir Forum Nuus geskryf.

  1. Historiese oorsig

1.1. Die administrasie van bestorwe boedels word voorgeskryf deur die Boedelwet, Wet 66 van 1965.  Die oorspronklike Reëls en Regulasies is vervat in die Boedelwet, Wet 24 van 1913.  Voormelde Wetgewing het ontstaan uit Reëls en Regulasies wat oorspronklik toegepas in die Kaap, Natal en later die Vrystaat en Transvaal. Dit is geskoei op Hollandse erfreg en nog vroeër. Die Boedelwet, in beginsel, het ten doel gestel dat van owerheidsweë, met die aanstelling van die Meester van die Hooggeregshof, behoorlik toesig uitgeoefen word oor die nadoodse beskikking van erfenis van gestorwenes, hetsy testamentêr of intestaat.  Die voorskrifte van en regulasies soos vervat in die Boedelwet was altyd beskou en aanvaar as uitstekende Wetgewing wat ontwikkel het tot ’n feitlike status van uitvoering van die funksies van ’n Regbank.

1.2 Die Boedelwet is egter aangepas om aan meer moderne behoeftes van die samelewing te voldoen asook die beskikking oor persoonlike bates. Die Boedelwet, Wet 66 van 1965, is toe aanvaar.

  1. Boedelbeplanning

Met behoorlike toepassing van die Boedelwet, is dit noodsaaklik dat elke persoon met ’n eie boedel en bates, kyk na boedelbeplanning, wat onder meer insluit die opstel van ’n behoorlike testament om uitvoering te gee aan sy/haar nadoodse wense.

  1. Testament

Wet 7 van 1953 (soos gewysig) is voorskriftelik met verwysing na die vormvereistes van ’n geldige testament.  Die woordkeuse van ’n testament is die voorreg van die testateur solank dit nie dubbelsinnig is of die bedoeling weerspreek nie.

  1. Vormvereistes

4.1 Die inhoud van ’n testament kan in beginsel voorsiening maak vir:

> 4.1.1 Herroeping van vorige testament(e);

> 4.1.2 Benoeming van ’n eksekuteur;

> 4.1.3 Benoeming van erfgename / begunstigdes;

> 4.1.4 Skepping van beperkte regte – byvoorbeeld vruggebruik; en

> 4.1.5 Voorbehoudklousule – vir bylae

4.2 Dit is gevolglik noodsaaklik dat daar nie dubbelsinnigheid in die woordkeuse moet bestaan nie.  Die benoeming van ’n eksekuteur moet ook op ’n  vertrouensbasis hanteer word – hetsy regslui, ouditeure of ’n familielid wat mag kwalifiseer vir die amp.

4.3 Die benoeming van ’n eksekuteur moet ernstige oorweging geniet. Die opsteller van ’n testament, in opdrag van ’n testateur, moet oor die nodige kennis en ervaring beskik om die testament op te stel vir praktiese bereddering van die boedel en uitvoering van die testament as laaste wilsbeskikking.

  1. Meester van die Hooggeregshof

5.1 Die Meester van die Hooggeregshof, deur sy aangewese beamptes, handhaaf ’n streng toepassing tot aanvaarding van voorgeskrewe rapporteringsdokumente, insluitend die oorspronklike testament.

5.2 Die Meester sal die benoemde eksekuteur, of ingeval van intestate afsterwe ’n eksekuteur, by skriftelike benoeming, as eksekuteur aanstel.

5.3 Die eksekuteur moet die waarde van die boedelbates bepaal.  Waardasie van vaste eiendomme, roerende eiendom en vorderings ten gunste van die boedel moet gedoen word.  Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet deur die voorlê van ’n doodsertifikaat van die afsterwe in kennis gestel word.

5.4 ’n Boedeltjekrekening moet by ’n erkende bankinstelling geopen word vir doeleindes van administrasie en vir uitbetaling van eise en uitgawes namens die boedel.

  1. Kennisgewing

6.1 In terme van Artikel 29 van die Boedelwet moet ’n kennisgewing aan krediteure gepubliseer word in ’n plaaslike koerant en die Staatskoerant.

6.2 Indien nodig moet, behalwe kontantvorderings ten gunste van die boedel, bates realiseer word om voorsiening te maak vir betaling van administrasiekoste van die boedel en bewese eise.  Indien enige twyfel bestaan mag die eksekuteur aandring op ’n beëdigde verklaring in terme van Artikel 32 van die Boedelwet.  In terme van Artikel 47 van die Boedelwet is verkope van sekere boedelbates onderhewig aan voorwaardes en toestemming deur die Meester van die Hooggeregshof.

  1. Insolvente Bestorwe Boedel – Artikel 34 van die Boedelwet

Die bate/laste-verhouding in ’n  boedel sal die solvabiliteit van die boedel bepaal.  Indien die administrasiekoste en laste die boedelbates oorskry, tree voorskrifte van Artikel 34 van die Boedelwet, in werking.  Artikel 47 van die Boedelwet skryf  voor dat die verkopings per openbare veiling moet geskied met toestemming van die Meester.  Die administrasieproses van ’n insolvent bestorwe boedel behels soms ingewikkelde vertolking van bestaande wetgewing en ook deels toepassing van die Insolvensiewet, Wet 24 van 1936.

  1. Artikel 35 van die Boedelwet

8.1 Artikel 35 van die Boedelwet bepaal dat binne 6 maande na die aanstelling van ’n eksekuteur deur die Meester van die Hooggeregshof, die aangestelde eksekuteur ’n oorspronklike likwidasie- en distribusierekening by die Meester van die Hooggeregshof moet indien.  Die balans vir distribusie word uiteengesit met toekenning aan testamentêre erfgename of intestate erfgename en gespesifiseer volgens voorskrif.

>  8.1.1 Die Meester het ’n diskresie om, indien sonder benadeling van erfgename of belanghebbendes, die likwidasie- en distribusierekening toe te laat alhoewel nie aan al die vereistes voldoen is nie.  Hierdie toegewing kan egter lei tot onreëlmatigheid deur die toesighoudende amptenare in die kantoor van die Meester.

>  8.1.2 Sodra die likwidasie- en distribusierekening deur die Meester aanvaar is, word magtiging verleen vir advertensie van die rekening ter insae in die Staatskoerant en ’n plaaslike koerant vir ’n tydperk van 21 dae.

>  8.1.3 Enige vaste eiendom wat aan erfgename toegeken is, word by wyse van registrasie van transport in die Aktekantoor oorgedra.

>  8.1.4 Aandele word oorgedra by die toepaslike oordragsekretarisse van die maatskappy.  Die eksekuteur moet deur rekonsiliasie verslag doen van die balans van kontant, met volledige rekonsiliasie van die bankstate en van deposito’s en uitbetalings. Die indiening van ’n volledige bankstaat van erfgename is ook ’n vereiste van die Meester van die Hooggeregshof.

  1. Oorsig

9.1 Voormelde feitelike voorstelling is slegs ’n verwysing na die kernvereistes van uitstekende wetgewing vir die administrasie van ’n bestorwe boedel indien dit volgens voorskrif uitgevoer word.

9.2 Inkomstebelastingaanslae teen die boedel verteenwoordig voorkeur bo konkurrente skuldeisers, indien van toepassing.  Volgens die Wet op Boedelbelasting word bepaalde voorwaardes voorgeskryf.  Artikel 4 bepaal ’n  totale basiese korting, tans vasgestel op R3,5 miljoen. Polisopbrengste wat nie aan die boedel betaalbaar is nie, maar aan ’n benoemde begunstigde, word ingevolge Artikel 3 van die Boedelbelastingswet geag ’n belasbare bedrag te verteenwoordig.

  1. Herverdelingsooreenkoms

In sekere omstandighede, wanneer dit onprakties is om bates aan erfgename te gee, kan met aanvaarding en goedkeuring van die Meester ’n herverdelingsooreenkoms aangegaan word.  Slegs testamentêre of intestate erfgename kan deelneem aan ‘n herverdelingsooreenkoms.

  1. Testamentêre Trust

’n Testamentêre Trust word administreer streng volgens die magte en bevoegdhede soos in die voorwaardes van die trust geskep.  Die funksie en uitvoering van die amp van ’n trustee word geag op die hoogste goeie trou om trustbates te bestuur.

  1. Strafbepalings – Artikel 102 van die Boedelwet

Dit is ’n oortreding indien:

> 12.1  ’n Testament gesteel, opsetlik vernietig, verberg, vervang of beskadig word;

> 12.2 ’n Vals inventaris opsetlik opgestel word;

> 12.3 ’n Vals likwidasie-rekening aan die Meester voorgelê word; en

> 12.4 Die indiening en aanvaarding van die likwidasie– en distribusierekening teenstrydig is met testamentêre bepalings, die Wet op Intestate Erfreg en toepassing van die Boedelwet.

  1. 14. Gevolgtrekking

Ten spyte van wetgewing, met selfs oorsprong uit die Romeinse Reg van eeue gelede en die invloed van die Romeins-Hollandse reg, word die uitvoering van die administrasie en bereddering van bestorwe boedels tot growwe nadeel van erfgename en naasbestaandes daagliks uitgevoer. Dikwels ook met samewerking van personeel van die Meester van die Hooggeregshof.

Daarom is dit uiters noodsaaklik dat elkeen in belang van die behoorlike afhandeling van sy/haar boedel kennis neem van basiese inligting wat nodig is om ’n behoorlike testament op te stel met die oog op die toepassing van die Boedelwet soos hierbo uiteengesit is.

Soortgelyke plasings