|

BOEK IN AFRIKAANS EN RUSSIES WERP LIG OP PERSOONLIKE VRIENDSKAPPE TUSSEN BOERE EN RUSSE

Deur Alet Rademeyer

Die hartlike verhouding wat daar tussen die Russe en Boere tydens en ná die Anglo-Boereoorlog bestaan het, word vandag weer in herinnering geroep met ’n boek Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe wat binnekort amptelik bekendgestel word.

Die bekende sportfotograaf Wessel Oosthuizen en die bekende skrywer-historikus Nico Moolman is die skrywers van die boek.

Moolman is ook die skrywer van The Boer Whore en ander boeke oor die oorlog. In Persoonlike vriendskappe: Boere en Russe skryf hy oor die betrekkinge tussen die Boere en die Russe gedurende die tydperk 1898 tot 1945.

Die boek is ook in Russies vertaal en Lika Gorokhowa (22), wat onlangs haar BA-graad in Afrikaans aan die Moskouse Staatsuniversiteit verwerf het én met die vertaling gehelp het, het verlede week in die land aangekom vir die bekendstelling. “Dit is vir my ’n wonderlike eer om in die land te wees en die mense te ontmoet. Die mense is baie vriendelik en dit voel of alles vir my reeds bekend is,” vertel sy in vlot Afrikaans.

Sy het ook vir Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, ontmoet.

Haar keuse om Afrikaans te bestudeer was maklik ná sy die aktrise Charlize Theron op YouTube Afrikaans hoor praat het.

Gorokhowa en Oosthuizen is tans op toer deur die land en sy het vandeesweek ook vir Rene van Reenen (23) ’n derdejaarstudent van Orania ontmoet. Rene studeer elektriese ingenieurswese in Tomsk, Siberië. Maar weens COVID-19 kon sy nie vanjaar terugkeer nie. Sy hoop om later vanjaar na Rusland terug te keer. Dié twee het dadelik bymekaar aanklank gevind en beplan om kontak te behou.

Gorokhowa en Oosthuizen gaan ook Stellenbosch toe waar hulle dr. Willem Botha, hoof van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) sal ontmoet asook die oudrugbyspeler Schalk Burger.

Hulle gaan ook in KwaZulu-Natal draai en ’n besoek bring aan die Bloedrivier Erfenisterrein.

Gorokhowa sien ook daarna uit om Moolman te ontmoet wat die historiese navorsing vir die boek gedoen het. Hy woon deesdae in Utrecht. Moolman is vroeër vanjaar deur die Russiese ambassade vereer vir sy navorsing oor die besonderse verbintenis wat daar tussen die Boere en Russe tydens die oorlog was.

Die Russiese ambassadeur in Suid-Afrika, Ilya Igorevich Rogachev, het in Maart ’n krans op die graf van ’n Russiese soldaat wat in die oorlog aan die Boere se kant geveg het in Utrecht gaan lê. Op 31 Mei het hy en Kriel ook ’n krans by die Russiese Ortodokse Kerk in Midrand gelê ter viering van die Vrede van Vereeniging, wat op 31 Mei 1902 in Melrosehuis, Pretoria, onderteken is om die Anglo-Boereoorlog te beëindig. By die kerk is daar ook ’n gedenkmuur vir die Russiese vrywilligers wat aan boerekant teen die Britte geveg het.

Oosthuizen het ’n groot liefde vir Rusland wat met gimnastiek begin het. Sy dogter, Heidi-Marie, was ’n gimnas en toe sy tien jaar oud was het hy in 1987 die 24ste Wêreldkampioenskap vir artistiese gimnastiek in Rotterdam as persfotograaf bygewoon. By die eerste amptelike oefening van die Russiese span het hy onder andere vir Tatiana Tougikova afgeneem. Sy lyk baie soos Heidi-Marie en hy het haar na Suid-Afrika genooi om sy dogter te ontmoet. In 1991 het sy uiteindelik gekom en dit was die begin van ’n lewenslange vriendskap. “Ek het deur die jare baie vriende in Rusland gemaak en die ongelooflikste mense ontmoet. Ek het daar besef die Rooi Gevaar wat aan ons voorgehou is, is eintlik die mooi gevaar.”

Die boekbekendstelling is op 22 Junie in die AfriForum Teater.

Soortgelyke plasings