|

Boer van Dundee kry ná ses maande borg

Borgtog is vandag in die hooggeregshof in Pietermaritzburg toegestaan aan Garth Simpson (68), die boer van Dundee in KwaZulu-Natal wat in September verlede jaar van die moord op Qiniso Dlamini (17) aangekla is ná ’n skietvoorval op sy plaas.

Simpson was die afgelope ses maande in aanhouding nadat borgtog vroeër aan hom geweier is. AfriForum was van mening dat daar nie voldoende gronde was om borg te weier nie en het Simpson in sy appèlaansoek bygestaan. Die landdros het vroeër aangevoer dit is onder meer in belang van Simpson se eie veiligheid dat hy in aanhouding bly.

Vandag se appèlaansoek, om op borg vrygelaat te word, is nie deel van die gewone saak wat op 14 Maart voortgaan nie.

Simpson het reeds ’n paar keer in die hof verskyn en in Februarie is die saak van die hof in Glencoe na Estcourt oorgeplaas.

Misdade teen boere en hul eiendom, wat wissel van brutale aanvalle, diefstal en intimidasie, geniet nie die aandag wat dit moet nie.

Simpson staan tereg op aanklagte van moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Dit volg ná ’n skietvoorval op sy plaas waarop hy sedert 1975 boer. Die voorval hou verband met gesteelde vee wat Simpson op sy plaas geskut het. Hy het die polisie ontbied wat nie dadelik opgedaag het nie. ’n Situasie het glo ontstaan waar ’n groep mans die kraal wou oopbreek om die vee uit te kry. ’n Struweling het glo gevolg waarna ’n skoot uit Simpson se geweer afgegaan en Dlamini getref het.

AfriForum het dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner en dosent verbond aan die Universiteit van Pretoria (UP), kort na Simpson se inhegtenisneming opdrag gegee om die meriete van die saak behoorlik te ondersoek. Curlewis het na bestudering van die feite op die grond, en getuienis soos ’n selfoonvideo wat op die toneel deur die beskuldigde se seun geneem is én volgens hom in die hof toegelaat moet word, gesê daar is geen rede waarom die beskuldigde nie sy saak kan stel dat hy uit selfverdediging opgetree het nie.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner en dosent verbond aan die Universiteit van Pretoria

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, verduidelik AfriForum het betrokke geraak omdat dit lyk of Simpson ’n baie goeie verweer openbaar en moontlik suksesvol sal wees in sy verdediging, mits hy goeie regshulp het tydens die verhoor en nie die slagoffer word van nou al holruggeryde politieke en rasgebaseerde aantygings nie.

AfriForum se standpunt is dat politieke inmenging en rassevooroordeel, wat toenemend gebruik word om die regsbeginsels van gelykheid en geregtigheid te beïnvloed, nie aanvaar kan word nie.

Roets sê Simpson se saak moet ook teen die breër agtergrond in die land bekyk word. “Die regering is onbevoeg en kom nie sy verantwoordelikheid na om landsburgers te beskerm nie. ’n Kultuur van geweld heers en daar is ’n klimaat waar haatspraak en geweld teen minderhede as polities korrek bestempel word en selfs geromantiseer word.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum

“Aan die ander kant bevind boere hulle in moeilike en onhoudbare situasies waar plaasaanvalle en –moorde, grondbesetting en grondgrype, dreigemente oor onteiening sonder vergoeding en ’n ekonomiese oorlewingstryd hul daaglikse realiteit is. Misdade teen boere en hul eiendom, wat wissel van brutale aanvalle, diefstal en intimidasie, geniet nie die aandag wat dit moet nie.

“Voorvalle soos dié moet behoorlik ondersoek word en die regsproses moet sy loop neem, sonder dat politici en gemeenskappe daaruit munt probeer slaan.”

Soortgelyke plasings