|

Bokkietoernooi in Orania bied geleentheid vir jong sportlui

 

 

AfriForum is vanaf 12 – 17 April weer betrokke by die jaarlikse Bokkietoernooi in Orania in die Noord-Kaap waar agt 0/21 rugby- en ses 0/21 netbalspanne van regoor die land mekaar die stryd gaan aansê.

Deelname aan sport op meriete het die afgelope jare vir talle jong Afrikanerseuns en  -dogters net ’n droom geword.

Druk op skole om sportspanne te transformeer, is aan die orde van die dag en op provinsiale en nasionale vlak dwing die regering ’n kwotabeleid af wat jong, belowende sportsterre uit spanne hou.

Fikile Mbalula, voormalige minister van sport, het by meer as een geleentheid die ANC se transformasie-agenda afgedwing wat tot nadeel van alle spelers met talent is.

Om meer geleenthede vir Afrikaners te skep om hul sporttalente uit te leef, is Afrikaner Volkseie Sport (AVS) reeds in 1992 begin. Dit bied aan jong sportlui die geleentheid om mededingend aan sport te kan deelneem sonder enige politieke inmenging.

Verskeie spanne kry elke jaar geleentheid om tydens die baie gewilde Bokkieweek aan rugby, netbal, hokkie en redenaars deel te neem.

Proewe word in verskeie unies gehou om die beste span uit daardie unie saam te stel, terwyl spelers op meriete gekies word.

Uit die beste spelers uit al die spanne van die unies word dan tydens die Bokkieweek ’n Bokkiespan verkies. Die O/19 spanne toer almal jaarliks internasionaal en neem soms teen nasionale spanne deel.

AfriForum het reeds in 2014 met ’n veldtog teen rassekwotas in sport begin omdat die burgerregte-organisasie van mening is dat spelers nie op grond van velkleur gekies moet word nie. Daarbenewens is sport ’n baie belangrike deel van jongmense se ontwikkeling wat aangemoedig moet word. Inisiatiewe soos Bokkieweek word as ’n groot aanwins én verantwoordelikheid bestempel in die belegging van jong Afrikanersportlui se toekoms.

Die Bokkieweek word in die Junie/Julie-vakansie aangebied waartydens 0/13, 0/14, 0/16 en 0/19 rugby- en netbalspanne en 0/14, 0/16 en 0/19 dogtershokkiespanne en O/15 en O/19 seunshokkiespanne teen mekaar meeding.

Tydens die Somerweek in die September/Oktobervakansie vind 0/13 en 0/19 krieket plaas asook sewesrugby vir 0/14, 0/16 en 0/19 en sedert 2016 snelbal vir O/17. In 2017 word daarna gekyk om O/15 snelbal en dalk skaak by te voeg.

Bokkieweek het ook uitgebrei na ’n 0/21 Bokkietoernooi in 2016. Ses rugbyspanne het verlede jaar in Orania deelgeneem. Vanjaar se byeenkoms beloof om net nog groter en beter te wees.

Vir navrae oor die Bokkietoernooi in Orania en ander toernooie kan ’n e-pos gestuur word na bokkieweek@gmail.com

 

 

Soortgelyke plasings