Boland: Vier plaasaanvalle in ses dae


Die burgerregte-organisasie AfriForum is bewus van vier plaasaanvalle – in die Paarl-, Stellenbosch- en De Doorns-omgewings – wat tussen 18 en 24 Mei 2019 in die Wes-Kaap aangemeld is.

“Die Boland gaan tans erg onder plaasaanvalle gebuk en ons doen ’n beroep op die gemeenskap om hulle paraatheid op te skerp,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se streekhoof vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap.
“Ons vermoed dat dieselfde groep wat einde 2018 vir die aanvalle in die Paarl- en Wellington-omgewings verantwoordelik was, weer aktief is. Die verdagtes is gewoonlik in groepe van vier en slaan toe net na sononder tot ongeveer 21:30 saans.”

Die aanvalle in De Doorns en die grusame moord op Tool Wessels in Bonnievale het plaasaanvalle in die Wes-Kaap die afgelope paar maande opnuut in die kollig geplaas. Tool Wessels se vrou is ook erg tydens die aanval beseer en met kookwater gebrand. Ná die Stellenbosch-plaasaanval is ’n beampte van die SAPD ook noodlottig gewond toe hy die verdagtes agterna gesit het. In April vanjaar is ‘n 72-jarige vrou tydens ’n plaasaanval in Redelinghuys verkrag.
AfriForum is landswyd by gemeenskappe betrokke en bied hulp en ondersteuning deur mense te bemagtig en aan te moedig om hulself binne die raamwerk van die wet te organiseer. AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid bied ook ondersteuning en berading aan die slagoffers van plaasaanvalle.

“Ons moedig mense aan, veral in afgeleë landelike gebiede, om verantwoordelikheid vir hulle eie veiligheid te aanvaar en hulself te organiseer deur betrokke te raak by plaaswagte in hulle gebied,” sê van Zyl.

Soortgelyke plasings