|

Boomplantmaand: AfriForum dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Paulpietersburg het vyf witstinkhout- en vyf kannabasbome by verskeie skole en die dorp se aftree-oord geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, beoog die organisasie om vanjaar meer as 3 000 bome dwarsoor die land te plant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Van Aswegen.

AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig egter sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer. Die AfriForum-tak in Paulpietersburg onderneem om dié sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sê George Scholtz, voorsitter van die jeugportefeulje by die Paulpietersburg-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms.

Soortgelyke plasings