Boomplantmaand: AfriForum plant ongeveer 7 000 bome oor sewe jaar


AfriForum vier boomplantmaand, wat op 1 September begin, en het reeds 500 swartkareebome (Searsia lancea, voorheen die Rhus-genus) aan AfriForum-takbesture geskenk. Dié burgerregte-organisasie het oor die afgelope sewe jaar ongeveer 7 000 bome geplant en gaan tydens Septembermaand weer landwyd bome plant.
Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, is die inisiatief deel van ’n poging om die toekoms vir nageslagte te verseker. Mense oor Suid-Afrika heen vier boomplantdag op 1 September, maar AfriForum wil die hele Septembermaand aan die plant van bome toewy. Altesaam 130 AfriForum-takke beoog om landwyd meer as 2 000 bome deur die loop van die maand te plant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Ten einde Suid-Afrika te laat floreer, moet ons almal ons deel doen en voortgaan om te bou – tot voordeel van almal in die land,” sê Boshoff.

AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom en ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die geelhoutboom (Podocarpus latifolius) en die skaars boom is die grootwitgatboom (Boscia albitrunca). AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome wat in hul omgewing sal aard, te plant.

“AfriForum moedig gemeenskappe landwyd aan om aan boomplantmaand deel te neem en ’n blywende verskil in hul omgewing te maak,” sluit Boshoff af.

AfriForum bedank alle kwekerye wat afslag gee aan AfriForum takke, spesifiek Wildflower Wholesale Nursery vir hul skenking van inheemse bome aan alle AfriForum-takke. Besoek gerus hul webtuiste by www.wildflowernursery.co.za.
Om by AfriForum aan te sluit, SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1).

Soortgelyke plasings