|

Boomplantmaand: AfriForum se Helderbergkom-tak dra tot ’n groener toekoms by

Die AfriForum-tak in die Helderbergkom het op 7 September 2019 twee bome by die Hope and Light Primary School in Somerset-Wes geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaand.

Die tak beplan om later die maand nóg bome by ander skole in die Helderbergkom te plant. Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê De Jager.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig egter sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer, en die AfriForum-tak in die Helderbergkom onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen De Jager.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms: E-pos na deon.dejager@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings