|

Boomplantmaand: AfriForum se Vryburg-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Vryburg het op Erfenisdag vier olienhoutbome by die Groot Trek Monumente buite Vryburg geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek. Die tak het onlangs ook die monumente se heining herstel.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, beoog dié organisasie om vanjaar landwyd meer as 3 000 bome te plant.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit mooier nie; ons wys ook dat ons hoop het vir die toekoms. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Pretorius.

AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig sy lede egter aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Vryburg onderneem om dié sorg te verskaf. Die tak wil die terrein rondom die monumente ’n aangename plek maak om te besoek. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop het vir die toekoms,” meen Pretorius.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings