|

Bothaville: Einde in sig aan rioolprobleme

Nadat die AfriForum-tak in Bothaville al die afgelope twee jaar druk op die Nala Plaaslike Munisipaliteit uitgeoefen het oor rioolprobleme, is die einde aan dié probleme uiteindelik in sig.

Die installasie van ’n pyp wat riool van Brandstraat na die rioolwerke moet neem, is feitlik klaar en sal verhoed dat riool in die Valsrivier beland.

Die munisipaliteit se kontrakteurs het in Oktober 2021 begin om die nuwe pyp te installeer.

Die onderskeie politieke partye in die dorp en ander instansies het die saak versterk deur ook druk op die munisipaliteit te plaas.

Die AfriForum-tak het gistermiddag (3 Maart) inspeksie op die terrein gaan doen en is dankbaar om te vermeld dat daar nou geen riool in die rivier invloei nie. AfriForum het die munisipaliteit egter gemaan om toe te sien dat die area en Brandstraat gerehabiliteer word sodra die werk voltooi is.

Die AfriForum-tak gaan egter ook nie nou die druk verslap nie, aangesien daar ook by Kgotsong ’n invloei van riool in die Valsrivier is wat uit die weggeruim moet word. Die munisipaliteit het reeds aangedui dat hulle ook aandag aan hierdie probleem gaan skenk, maar daar is nog geen verbetering aan die situasie nie en die rivier word steeds besoedel.

Die plaaslike AfriForum-tak het die Nala Plaaslike Munisipaliteit nou op terme geplaas om aandag hierdie besoedeling te skenk, anders sal AfriForum dit doen en die koste van die munisipaliteit verhaal.

“Dit is ontstellend dat waterbesoedeling skynbaar nie vir die Nala Plaaslike Munisipaliteit ’n prioriteit is nie, maar ons is dankbaar dat daar uiteindelik iets aan die rioolinvloei uit Brandstraat in die Valsrivier gedoen is. Ons waardeer dat die politieke partye ook druk op die munisipaliteit uitgeoefen het oor hierdie probleem en dit is weereens ’n bewys dat die gemeenskap moet saamstaan om probleme in die gemeenskap op te los. Ons doen ook ’n beroep op ander instansies om met ons hande te vat dat ons hierdie probleem saam kan aanpak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak. SMS “Bothaville” na 45344 (R1) om aan te sluit.

Soortgelyke plasings