|

Bothaville-tak en boere herstel slaggate op R504 as deel van #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Bothaville het slaggate op die R504 herstel in samewerking met plaaslike boere wat ook gebruik maak van hierdie pad. Slaggate is op hierdie pad vanaf die vierrigtingstopstraat by Bothaville in die rigting van Leeudoringstad tot by Brug 14 herstel. Die R504 is ’n pad wat swaar verkeer dra, veral in oestyd, en die owerhede het nie gereageer op versoeke om die slaggate te herstel nie. Dit het Martin Jordaan, ’n plaaslike boer, genoop om AfriForum te kontak en fondse by die boere in te samel vir die herstel van die pad. Daar is ook met Venmini, ’n kontrakteur van Potchefstroom wat baie slaggatherstelwerk vir AfriForum doen, gereёl dat hulle die herstelwerk sal doen.

Op 21 Julie is daar weggespring met die herstelwerk en daar is vier dae aan die stuk pad gewerk. Die boeregemeenskap het fluks bygedra en altesaam 96 m² se slaggate is met 10 ton teer herstel. Boere wat nog wil bydra kan gerus met Jordaan skakel. Die AfriForum-tak in Bothaville maak ook ’n bydrae tot hierdie poging.

“Alhoewel hierdie #OnsDorp-projek nie in die dorp self gedoen is nie, baat elke inwoner wat ooit van hierdie pad gebruik maak by die poging. Ek is dankbaar dat die gemeenskap tot die besef gekom het dat selfdoen beter is as niksdoen. Die bydrae wat elke boer gemaak het, is gering in vergelyking met ’n band wat beskadig word weens ’n slaggat. Baie dankie aan elke lid van die gemeenskap wat die span bederf het met kos en drinkgoed. Saam is ons sterker,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak: SMS “Bothaville” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings