|

Bothaville-tak verskaf hulppakkette aan ses skole

AfriForum se Bothaville-tak het hulppakkette aan ses skole in die dorp en omgewing geskenk as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is.

Die skolehulppakkette bevat COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders.

Die skole wat pakkette ontvang het, is Hoërskool Bothaville, Eben Dönges Primêre skool, Loskuil-, Humansvlakte- en Kleinbroek Plaasskool. Die Loebi La-la-kleuterskool sal hulle pakket ontvang sodra hulle mag oopmaak. Die pakkette wat uitgedeel is se waarde beloop ongeveer R35 000.

“Die Bothaville-tak is dankbaar om hierdie skole te kon bystaan om te verseker dat kinders veilig terugkeer skool toe. Dis belangrik dat gemeenskappe mekaar in tye van nood ondersteun en ophef,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by projekte soos dié betrokke te raak en te verseker dat skole op ’n veilige wyse funksioneer. SMS “Bothaville” na 31481 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings