|

Botswana-aangeleentheid: Uitspraak in herroepingsaansoek voorbehou hangende samesprekings

Waarnemende adjunkregterpresident T.J. Raulinga het vandag uitspraak voorbehou tot 6 Junie 2022 in die Suid-Afrikaanse regering se aansoek om herroeping van die beslissing wat die regering noop om wedersydse regshulp aan die Botswana-regering te verskaf. Uitspraak is voorbehou ten einde die partye die geleentheid te gee om samesprekings te hou oor die Suid-Afrikaanse regering se versuim om hierdie regshulp aan Botswana te verskaf.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria geargumenteer dat die herroepingsaansoek wat die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste, asook die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) gebring het, bloot ’n verdere poging van die Suid-Afrikaanse regering is om te versuim om gehoor te gee aan die regering van Botswana se aansoek om wedersydse regshulp in ’n hoëprofiel-strafsaak in dié land.

Nel en adv. Phyllis Vorster, ook van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is in Junie 2020 amptelik deur die regering van Botswana aangestel om dié regering te verteenwoordig in ’n hoëprofiel geldwassery- en bedrogsaak waarby die sakevrou Bridgette Motsepe-Radebe, die skoonsuster van president Cyril Ramaphosa, geïmpliseer word.

Die Suid-Afrikaanse regering se herroepingsaansoek beoog om regter Hennie de Vos se toestaan van AfriForum se mandamusaansoek in die Noord-Gautengse Hooggeregshof om te keer. Dié onbestrede mandamusaansoek is op 7 Julie 2021 (met kostes) toegestaan en bepaal dat die departement en die NDOV verplig is om gehoor te gee aan die regering van Botswana se aansoek om wedersydse regshulp. Die departement en NDOV het in Julie 2021 versuim om die privaatvervolgingseenheid se mandamusaansoek teen te staan.

Nel het verder vandag geargumenteer dat dié partye geen verduideliking verskaf het oor waarom hulle versuim het om hierdie mandamusaansoek teen te staan nie.

“Ons verwelkom die feit dat die hof die geleentheid gegun het dat die Suid-Afrikaanse regering bloot die versoekte inligting kan verskaf. Vanuit vandag se verrigtinge het dit duidelik geword dat die Suid-Afrikaanse regering versuim het om enige stappe te neem om die mandamusaansoek in 2021 teen te staan. Dié versuim dui daarop dat die Suid-Afrikaanse regering, ten spyte van pogings om die regering van Botswana te paai, geen voorneme gehad het om die wedersydse regshulp te verskaf nie. Dit is waarom ons in die eerste plek genoop was om die mandamusaansoek te bring – om hulle te dwing om juis hierdie hulp te verskaf sodat die strafsaak in Botswana kan voortgaan,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens Venter is die vraag steeds waarom die Suid-Afrikaanse regering hierdie herroepingsaansoek vandag gebring het indien hulle argumenteer dat hulle graag die regshulp aan die regering van Botswana wil verskaf.

“Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat die Suid-Afrikaanse regering nié hierdie regshulp wil verskaf nie, omdat hulle sekere hooggeplaaste, politieke figure wil beskerm teen moontlike vervolging in Botswana.”

Die saak is virtueel aangehoor.

Soortgelyke plasings