Brakpan-begraafplaas gaan agteruit


AfriForum het op 28 Junie 2017 ondersoek ingestel na die toestand van die Brakpan-begraafplaas in die lig van hul Rus in Vrede-veldtog en bevind dat dit in ’n haglike toestand is.

“Daar word geen instandhoudingswerk gedoen nie. Gebrande bloekombome het op ’n hele paar grafte geval en dit beskadig. Daar is nie behoorlike veiligheidsmaatreëls in plek nie en booswigte kan maklik toegang tot die begraafplaas verkry wat vandalisme moontlik maak,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Suid.

AfriForum het ’n skrywe aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gerig en versoek dat die gronde dringend skoongemaak word.

“Munisipaliteite het ’n grondwetlike plig om begraafplase skoon te maak en te onderhou. Hul versuim om hierdie verpligting na te kom, getuig van die vlak van wanbestuur en ook hul ongeërgde houding jeens die gemeenskap,” sê Swanepoel.

Indien die betrokke munisipaliteite met onversorgde begraafplase nie aan AfriForum se versoeke gehoor gee nie, beplan die burgerregte-organisasie ’n nasionale begraafplaas­skoonmaakaksie in Augustus. Ondersteun jou plaaslike AfriForum-tak deur by dié inisiatief betrokke te raak.

Soortgelyke plasings