|

Brakpan-buurtwag ontvang bloedingbeheeropleiding

Die AfriForum-buurtwag in Brakpan het op 18 Mei opleiding ontvang wat hulle bemagtig om op die korrekte wyse op te tree in noodsituasies. Hierdie opleiding is gefokus op die beheer van bloeding en sal die patrolleerders die kennis gee om mekaar op die regte wyse by te staan indien iemand ’n ernstige wond opdoen. Hierdie opleiding is ’n groot behoefte by AfriForum-buurtwagte omdat buurtwagpatrolleerders gereeld op motorongelukke en traumaverwante voorvalle reageer.

“Elke persoon moet hulself bemagtig met die kennis en vermoë om ernstige beserings se bloeding te beheer. Ongelukke en misdaad vind al hoe meer plaas en kennis soos hierdie kan ’n groot verskil maak in iemand se lewe. Baie dankie vir die buurtwaglede wat tyd afgestaan het om die kursus by te woon om sodoende hulle vermoë om hul gemeenskappe te dien, te versterk,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Ons lede is gewoonlik eerste op tonele om te help en hierdie opleiding maak ’n daadwerklike verskil. AfriForum se fokus vir 2022 is opleiding om ons lede beter voor te berei vir die uitdagings wat hulle elke dag aanpak om hulle gemeenskap te dien,” sê Gerhard Cilliers, voorsitter van AfriForum se Brakpan-tak.

Word vandag nog deel van AfriForum se Brakpan-tak: SMS “Brakpan” na 45340 (R1) of stuur ‘n e-pos na brakpan@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings